’n Jamestown-gesin weet nou nie waarheen om te gaan nie omdat die skool waar hulle gewoon het, hulle nie meer op die perseel wil hê nie.
Johanna Arendse, haar man, Brian, twee kinders en ’n kleinkind se wendyhuis is vroeër vandeesmaand in die stormweer verwoes. Die gesin woon sedert 2016 op die perseel in ruil vir die Arendses wat seker maak geen kwaaddoeners betree die skool nie. Nou het die gesin gehoor hulle mag nie meer op Stellenzicht Sekondêr se perseel woon nie.
“Die ooreenkoms met die voormalige hoof was dat ons gratis kan woon in ruil vir die sekuriteitsdienste. Nadat dié hoof afgetree het, het die ooreenkoms voortgegaan, maar verlede jaar het die huidige hoof gesê sy het met die skoolbeheerliggaam vergader en daar is besluit ons moet huur betaal,” vertel Johanna.
Die Arendses het ’n kontrak ontvang wat bepaal hulle sal huur betaal, maar Johanna sê die huurbedrag van R3 000 was buitensporig gegewe hul inkomste. Dit is glo later tot R2 000 verminder.
Saam met die kontrak is Brian ook gevra om na busse, wat op die skoolperseel sal oornag, om te sien. “Hy het net een aand na die busse gekyk en toe kom die storm. Ons besittings wat nie weggewaai het of beskadig is nie, het ons in ’n klas by die skool gestoor. Ons het die skool gevra of ons nie solank in twee leë klaskamers kan bly nie, maar ons is gesê dis nie ’n opsie nie.”
Die gesin is toe na familie waar hulle sedertdien woon. Hier mag hulle egter nie permanent woon nie en het intussen planne gemaak om ’n nuwe wendyhuis aan te skaf.
Johanna sê dit voel asof die skool die stormskade gebruik om hulle van die perseel af te kry. “In al die tyd wat ons by die skool gewoon het, was daar nie een keer ’n inbraak nie. By my huis is daar ingebreek, maar glad nie by die skool nie. Ek kan nie glo mense het so ’n koue hart nie.”
Die Arendses het ook regshulp ingewin wat sê die gesin mag nie sonder ’n uitsettingsbevel van hul voormalige woonplek verwyder word nie, maar die haakplek is egter dat daar nou geen geskrewe ooreenkoms tussen die partye was nie. Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) maak die Suid-Afrikaanse Skolewet voorsiening vir ’n beheerliggaam om goedkeuring te gee vir die verhuur, belas, omskep of verander van ’n skool om voorsiening te maak vir skoolaktiwiteite of om die skool se geld aan te vul.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, het gesê in die Arendse-gesin se geval kon die beheerliggaam geen amptelike huurooreenkoms tussen die skool en die gesin vind nie. Die beheerliggaam het dus besluit die gesin sal ’n ander heenkome moet vind.
Volgens Alan Levy-prokureurs is ’n mondelinge ooreenkoms steeds geldig, maar beide huurders en verhuurders word altyd aangeraai om ooreenkomste op skrif te plaas. Die Arendses sê nou hulle dink daaraan om hulle tot die hof te wend aangesien hulle nie ’n ander heenkome het nie. Eikestadnuus het na die skool uitgereik, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.