Gesin dakloos ná brand

’n Ma van vier is dakloos gelaat nadat haar woonstel met al hul besittings Dinsdag 22 Februarie in ’n brand vernietig is.


’n Ma van vier is dakloos gelaat nadat haar woonstel met al hul besittings Dinsdag 22 Februarie in ’n brand vernietig is.

Clerisia Pienaar sê sy het buite haar woning in Kudustraat gestaan toe sy hoor iemand skree “jou plek brand”.

“Dit het gelyk asof die brand al drie ure aan die gang was. Ek kon net my kinders uit die huis kry en belangrike besittings soos geboortepapiere red.”

Pienaar vertel sy was net vinnig na haar vriendin op pad om te vra of sy saam met haar winkel toe wil stap, toe sy iemand hoor roep. “Ek en my jongste kind het nie eens vyf minute vroeër nie nog skuins gelê, en skielik het dit gebrand. Ek is die Here dankbaar dat my kinders en my hond veilig is en niemand beseer is nie.”

Die Pienaars het vir ’n paar dae, nadat hulle eers in die gebrande huis geslaap het, in die Sofa-kerksaal geslaap totdat die Stellenbosch-munisipaliteit huisvesting verskaf het.

Stuart Grobbelaar het die brand bevestig en gesê die brandweerspanne is omstreeks 15:56 gekontak oor ’n brand by Kudustraat 3 en 5, Cloetesville. “ ’n Span van sewe brandbestryders was binne drie minute op die toneel en die brand is omstreeks 16:10 geblus. Ongelukkig is die eenheid by nommer 5 heeltemal deur die brand vernietig, maar vanweë die vinnige optrede van ons brandweerspanne is skade aan ander eiendomme tot ’n minimum beperk.

“Die munisipaliteit het die gesin bygestaan met noodsaaklikhede soos skoon water, kos en ’n firekit, matrasse en komberse en het ’n vanity pack geskenk,” het Grobbelaar bygevoeg.

Die oorsaak van die brand is steeds onbekend, hoewel Pienaar vermoed die brand kon by ’n muur­prop ontstaan het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.