‘n Gesin van Groendal is innig dankbaar teenoor die span van Franschhoek First Responders nadat dié vrywilligerdiens hul drie maande oue baba in ‘n mediese noodsituasie van moontlike dood gered het.
Volgens Kurt Maske, van Franschhoek First Responders asook ‘n ER24-paramedikus, het hy omstreeks 20:30 op Saterdag 14 Junie ‘n noodoproep van ‘n ontstelde gesin ontvang nadat hul baba ontsettend siek en swak geword het.
Maske het tydens dié noodbesoek in sy hoedanigheid as ‘n lid van die vrywilligerdiens opgetree.
Met Maske en drie ander lede van die Franschhoek First Responders-span se besoek aan die familiewoning was die baba wesenlik gedihidreer – vermoedelik weens ‘n soort virus.
Volgens hom het die gesin hul baba by ‘n vorige geleentheid na die hopsitaal geneem nadat hulle besef het die kind is nie gesond nie, maar die babaseuntjie se toestand het net nie verbeter nie.
Dit kon, na bewering, wees weens verkeerde medikasie wat aan die baba voorgeskryf is, het die ma aan Maske vertel.
Maske en sy kollegas kon toe dadelik die baba stabiliseer, waarna ‘n paramedikus van die Metro-ambulansdienste die baba na die Paarl-hospitaal vir verdere mediese bystand geneem het.
Die ma het haar dank teenoor die span van Franschhoek First Responders op die “What’s On In Franschhoek!”-Facebookblad uitgespreek: “Die rede hoekom ek vanaand op hierdie [Facebook]-blad skryf [is] om net hartlik baie dankie te sê aan Franschhoek First Responders [asook die] Metro-ambulansdienste vir jul vinnige diens en dat julle so vinnig gewerk het om hom te help.
“Julle het regtig uitstekende werk gedoen. Dankie dat julle alles in jul vermoë gedoen het om my drie maande oue baba aan die lewe te hou. Julle het uit jul besige program gekom om my kleine seun te kom help.
“Sonder julle sou hy nie vandag hier gewees het nie. Dankie dat julle ook gebruik gemaak het van jul ander mediese kontakte [en] raad om my seuntjie te help; julle het regtig jul beste gedoen. Ek weet regtig nie wat ek sonder julle nie sou gedoen het nie; my hart [sou] dit nie gehou het nie.”
• Die Franschhoek First Responders is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat gratis nood- mediese sorg aan inwoners van Franschhoek verskaf. Die diens ontvang geen staatsfinansiering nie.

You must be logged in to post a comment.