“Restitusie sal nooit werklik kan geskied nie. Niks sal Sandy se kind se verlies van ’n pa of haar lewe kan regmaak nie en ook nie die verlies wat my ouers daardie dag ervaar het kan regmaak nie.”
Só sê Richard Carolissen van Cloetesville oor die dood van sy broer wyle Ronald wat op 8 September 1976 deur die polisie doodgeskiet is.
“Hiermee sê ek nie daar is nie pogings aangewend nie. Daar is ’n plaket in Soweto, maar wat Stellenbosch betref, is daar ’n soort van ontkenning. Dit is nie net ’n miskenning van my broer se dood nie, maar ’n miskenning van bruin mense se betrokkenheid by die stryd teen apartheid. En dit sal altyd ’n bitter smaak in my mond laat,” voeg hy by.
Richard en die Carolissen-familie het op Menseregtedag, Maandag 21 Maart, ’n besoek van lede van die Good Party ontvang wat ’n erkenningsgeleentheid vir wyle Ronald se wrede moord gehou het. Hulle het ook wyle Ronald se destydse vriendin en ma van sy kind besoek.
“Bruin mense kry nie die nodige erkenning vir hul rol in die stryd teen apartheid nie en daarom is dit belangrik dat ons erkenning gee aan ons vergete helde. Dit gaan nie oor die blomme nie, dit gaan oor die bond en samesyn,” het Valery Fernandes van die Good Party gesê.
Sandy Messias, Ronald se kind se ma, sê die besoek van Good was ’n verrassing en ’n riem onder die hart. “Dat mense nog aan ons dink, is baie besonders. Ons waardeer regtig hierdie gebaar.”
Sandy vertel sy was nege maande swanger toe Ronald geskiet is. “Hy sou nog daardie aand na my toe gekom het, maar hy het nooit by my uitgekom nie. Hy is op 8 September geskiet en sy seun Ronald Junior is later die maand, op 30 September, gebore.”
Richard herroep die dag en sê: “Almal soek die antwoord op daardie dag, maar dit het egter lank voor daai dag begin.
“Die feit dat hulle my broer geskiet het, was bloot ’n daad van frustrasie, want hulle het geweet ons was die ruggraat van die stryd in Stellenbosch. Daar was ’n losprys van R10 000 op ons lewens. Hulle wou ons elimineer, ons uitwis,” sê Richard.
Hy vertel dat hulle vier broers die aand in Langstraat op geloop het toe hulle die polisie gewaar. “Daar was onluste daai aand, maar ons was nie daar betrokke nie. Ek het gesien hier kom moeilikheid en het voorgestel ons verdeel. Ek en Ronald het by die woonstelle ingegaan en die ander het ’n ander rigting in gehardloop. Ons het by die een woonstel probeer ingaan, maar die vrou het die deur toegedruk, Ronald het toe ingekom en ek het opgegaan na die volgende woonstel,” vertel hy.
Richard vertel verder dat Ronald in die badkamer toegemaak is. “Hulle (die polisie) het die venster uitgeslaan en op hom losgebrand. Hy is pap geskiet.”
Richard sê hulle was heeltyd bewus dat hul lewe in gevaar is. “Dit was een van ons opofferings, dis net jammer dat dit so erg was vir ons ouers. Ons was bewus van die gevaar. Ons huis is elke aand deursoek. Hulle (die polisie) het aan al ons deure en vensters gelyk geskop, dit was aaklig.”
John, wyle Ronald se ander broer, sê: “My pa het ons verseker dat ons opoffering eendag die moeite werd sou wees. En as ek vandag om my kyk was dit alles die moeite werd.
“Ons kry nie wat ons toekom nie, maar niemand sou vir ’n Manie Libbok, ’n Cheslin Kolbe, ’n Herschelle Gibbs en ’n Breyten Paulse daai geleenthede gegee het as dit nie vir ons opofferings was nie. En niks gee my soveel vreugde as om te sien hoe ’n kind van Kylemore vir die Springbokke speel nie, alles oor die opofferings wat ons gemaak het,” voeg Richard by.
Richard sê hy voel soms bruin mense is nie aggressief genoeg om hul plek onder die son te eis nie. “Ons moet eienaarskap neem van ons toekoms en die opskryf van ons geskiedenis. Ons het jongmense nodig om eienaarskap te neem van môre. Ek probeer my kinders leer waarvandaan ons kom en wat hul verantwoordelikheid is teenoor môre en teenoor ander mense.”