Geslagsgeweld dalk skoolvak

’n Oudstudent van die Universiteit Stellenbosch, Emily O’Ryan, wil haar deel doen om geslagsgeweld die hoof te bied deur ’n kurrikulum en handboek oor geslagsgeweld vir gr. 6- en gr. 7-leerders te ontwerp.


’n Oudstudent van die Universiteit Stellenbosch, Emily O’Ryan, wil haar deel doen om geslagsgeweld die hoof te bied deur ’n kurrikulum en handboek oor geslagsgeweld vir gr. 6- en gr. 7-leerders te ontwerp.

O’Ryan, wat in 2019 met die dood van die student Uyinene Mrwetyana van die Universiteit Kaapstad ’n betoging met poskaarte na die Parlement gelei het, beoog nou om dié soort geweld te bekamp deur leerders daaroor op te voed.

Mrwetyana is deur ’n poskantoorwerker, Luyanda Botha, verkrag en vermoor. Botha is later in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind en drie keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Volgens O’Ryan wil sy en haar span, wat almal jong vrywilligers is, leerders bemagtig. “Ons wil jongmense wys hoe geslagsgeweld lyk. Tweedens sal hulle weet hoe om op te tree wanneer hulle dit ervaar. En wanneer hulle dit wel ervaar, hoop ons dat hulle bemagtigend is en met selfvertroue sal optree en hoop vir die toekoms sal koester.”

Die kurrikulum en handboek wat tans nog in die beplanningsfase is, word deur onderwyskundiges aan die US geadviseer. Die eerste beplanningswerksessie is verlede Vrydag (29 April) by die US se opvoedkundefakulteit gehou.

Delecia Davids, ’n deeltydse dosent in kurrikulumstudie, sê opvoeding word gewoonlik as voertuig gebruik om kwessies te bekamp of te bespreek. “Gewoonlik, wanneer probleme ontstaan, draai mense na die onderwys. ’n Mens kan byvoorbeeld kyk na MIV en hoe hulle dit lank terug in die onderwys integreer het.”

Volgens Davids is die ontwerp van hierdie materiaal baie belangrike werk. “Ek glo daar is ’n paar gapings in die onderwysstelsel, en selfs met die opleiding van onderwysers. Hulle [onderwysers] is veronderstel om bevoeg te wees om hierdie gesprekke te kan voer en te kan intree wanneer dit by hierdie soort probleme kom.”

Davids meen die kurrikulum en handboek sal onderwysers dus help om bevoeg te raak om die kwessie in die klaskamer te identifiseer en te help om dit die hoof te bied.

Prof. Jonathan Jansen, uitgelese professor in die fakulteit opvoedkunde, het ook die eerste werksessie bygewoon om sy insae te deel. Volgens Jansen is die kurrikulum en handboek nou nodig.

“In hierdie ontstellende tye van toenemende geweld teen vroue kan ek nie aan ’n belangriker projek vir studentaktivisme en -ontwikkeling dink as om ’n innoverende kurrikulum te ontwikkel om geslagsgeweld (GBV) die hoof te bied met die doel om skoolkinders voor te berei met die konsepte en vaardighede om hierdie sosiale plaag te verstaan en daaroor op te tree nie.”

Jansen sê hy is opgewonde om ’n wêreldklaskurrikulum te ontwerp wat tot die stryd teen geslagsgeweld kan bydra.

“As kurrikulumontwikkelaar is ek geëerd om deur hierdie groep huidige en voormalige US-studente gevra te word om lid te wees van die span wat ’n wêreldklaskurrikulum ontwerp wat deur voorsteliniewerkers aan senior primêre leerders in Suid-Afrikaanse skole onderrig moet word. Daar is soveel uitstekende eienskappe oor hierdie kurrikulumpoging – dit is proaktief, studentgedrewe, skoolgeoriënteerd, gemeenskapsgebaseerd, pedagogies ryk (die gebruik van drama, film, uitstappies, ens.) en impakvol in die lewe van jongmense as burgers.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.