Die SA Terroir-wynpryse word vanjaar die 18de keer uitgedeel en is nou reeds ’n toonaangewende instelling op die wynkalender – wat die geleentheid vir kundige wynmakers en wingerdboukundiges bied om die vele uitsoek grond- en klimaatsterreine in die Kaapse wynland ten volle te benut om uitsonderlike wyne te skep.
Só sê die voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), Christo Pienaar, en voeg by: “Ons wyngebiede is ’n uitmuntende voorbeeld van Suid-Afrika se landbouvaardighede, wat internasionaal gerespekteer word. Die topgehalte wyndruiwe van ’n wye reeks terreine (terroirs), waar ’n groot verskeidenheid kultivars verbou word, lewer wyne wat puik by hierdie gesogte toekennings presteer.”
Slegs wyne wat deur die Wyn-en-Spiritusraad (WSR) gesertifiseer is as “wyn van oorsprong” van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ’n landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn mag aan die terroir-kompetisie deelneem.
Die SA Terroir-wynpryse is van meet af aan geskoei op die “wyn van oorsprong”-stelsel, wat in 1973 ingestel is, en die kompetisie is trots daarop dat dit dié stelsel huldig.
Sedert die instelling daarvan 50 jaar gelede, is reeds 98 wyke afgebaken en 232 eenhede vir die produksie van landgoedwyn en 1 760 enkelwingerde geregistreer. Talle van die nasionale terroir- wenners van die afgelope vyf jaar kom uit wyke wat onlangs afgebaken is.
Uit al die wyne wat vir die SA Terroir-wynpryse ingeskryf is, word die nasionale wenner van elke kultivar en wynstyl aangewys. Die topwyne van die kultivars en style in elk van die verskillende gebiede word ook aangekondig. Die beoordelaars wys ook die trofeewenners uit die nasionale wenners aan. Laasgenoemde bestaan uit trofeë vir die beste enkelwingerdwyn, beste wynlandgoed, beste terroir-produsent, beste omgewing en algehele topwyn uit al die inskrywings.
Die SA Terroir-wynpryse word sedert verlede in samewerking met die finansiële vennote SA Litho en WinField United SA aangebied, terwyl Ontbytsake op KykNET as mediavennoot optree.
SA Litho Label Printers glo ’n groot produk is niks sonder “groot” verpakking nie. “In vandag se mededingende kleinhandelomgewing tel dit werklik om jou eerste indruk ’n blywende indruk te maak,” sê Dawrian Salies, hoofbestuurder van SA Litho Label Printers. “Ons is trots om in vennootskap met die SA Terroir-wynpryse te wees, waar die hoë gehalte en uniekheid van ’n wyngebied se terroir tesame met die wynmaakproses gevier word.”
WinField United SA bied vernuwende oplossings en is betrokke by projekte om te help om vooruitgang of “progressie” in landbou te dryf.
Die hoof van bemarking by WinField United SA, Niel Kruger, sê: “Ons vennootskap met die SA Terroir-kompetisie is vir ons belangrik om by die spogwyne van Suid-Afrika betrokke te raak – reg van die wingerd tot by die eindproduk in die bottel.”
Wat Ontbytsake as vennoot betref, sê Louis Mclaren, die eienaar en uitvoerende vervaardiger: “Die program is ’n ideale platform om ons kykers nie net die kans te gee om met uitsoekwyne kennis te maak nie, maar ook daarmee saam die wynmakers agter hierdie topwyne te leer ken asook smulgeregte wat in die ateljee saam met die wenwyne berei word.”
Inskrywings vir die kompetisie sluit vanjaar op 2 Junie en laat-inskrywings op 15 Junie. Die aflewering van monsters vir beoordeling is op 14 en 15 Junie. Die beoordeling vind plaas van 27 tot 30 Junie en die wenners word op 16 Augustus aangekondig.
Die legendariese wynkenner Marius Labuschagne, ’n bekende skrywer en die stigter van Novare SA Terroir-wyntoekennings (soos voorheen bekend) sê die kompetisie lê klem op die Kaapse wynland se terroir en veelsydigheid om hoëgehalte wyne van ’n groot verskeidenheid wyndruifkultivars te maak. “Die wingerdboukundiges se rol is van groot belang om die regte kultivar in die regte terroir te verbou en sodoende topgehalte druiwe vir wyne uit die boonste rakke te kan lewer.”
Navrae kan gerig word aan Elsabé Ferreira by 021 863 1599 of [email protected]


