Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, is Donderdag 4 April by ’n geleentheid in Sandton, Johannesburg, met ’n toekenning vir leierskap in onderwys vereer.
?Die stigter en organiseerder van?World Sustainability, dr. R.L. Bhatia, se oogmerk met die toekennings is om leiers (ook van ander lande) te identifiseer wat daarin kon slaag om binne die raamwerk van hul ondernemings of instellings verskeie vlakke van uitnemendheid te bereik en daarop te verbeter. Die fokus val verder op individue wat deur leierskap en vernuwing nuwe leiers ontwikkel sodat die gaping tussen die akademie en die nywerheidsektor suksesvol oorbrug kan word.
In Van Heerden se toespraak het sy die paneel bedank dat onderwys ook saam met groot sakeleiers, professore en genoteerde firmas erkenning ontvang. Sy het egter gesê dat sy nie die eer alleen verdien nie en dat sy graag die toekenning namens haar personeel in ontvangs neem.
“Sonder hul gesindheid, kundigheid en werksetiek sou ek nie so effektief kon lyk nie.”