Gerugte het onlangs die ronde gedoen dat gesondheidsdienste buiten klinieke wat binne verskillende gemeenskappe ’n diens aan inwoners gelewer het, gestaak gaan word, maar inwoners sal bly wees om te hoor dit is nie waar nie.
Volgens Sandra Maritz, die amptelike woordvoerder van die Wes-Kaapse regering se afdeling vir gesondheid en welstand in die Kaapse Wynland-distrik, het die departement onlangs ooreenkomste gesluit met meer as tien nie-regeringsorganisasies vir ’n volgende termyn. Plekke soos klinieke en daghospitale is ankerpunte vir dienste in die gemeenskap, maar om bystand aan soveel mense as moontlik te gee, werk die departement met verskeie vennote saam.
Voorbeelde van dienste wat op hierdie manier beskikbaar is, sluit in:. Plekke in woonbuurte waar kroniese medikasie afgehaal kan word;. tuisbesoeke vir die deel van inligting oor gesondheid (veral gesinsbeplanning, babagesondheid, immunisering en voor- en nageboortesorg);. tuisbesoeke vir ondersteuning met die gebruik en neem van kroniese medikasie;. geestesgesondheidsondersteuning en. rehabilitasie en/of palliatiewe sorg.
“Sommige ooreenkomste wat tussen die departement en nie-regeringsorganisasies gesluit het, het aan die einde van die boekjaar verstryk. Ná ’n proses waarin diensverskaffers kon aansoek doen vir kontrakte, is ooreenkomste vir ’n nuwe termyn aangegaan sodat hierdie dienste sonder onderbreking voortgaan,” sê Maritz. Sy sê ook die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand bied met die hulp van verskeie vennote steeds omvattende gesondheidsdienste.
“Die departement is baie dankbaar teenoor al sy vennote. Vennote in die Kaapse Wynland-distrik wat gemeenskapsgebaseerde gesondheidsdienste vir die Breedevallei bied, is die Boland-hospies, Vukahambe Association for the Multi-disabled en die Breedevallei APD.
“In die Drakenstein vat ons hande met Drakenstein APD, Rusthof-ouetehuis en NorSA.
“In die Langeberg is ooreenkomste geteken met die Breederivier-hospies en die ACVV Robertson-trippeltoontjies.
“Vennote in die Stellenbosch-omgewing, is Right to Care, die Stellenbosch-hospies en Kerith Retreat.
“In die Witzenberg is die vennote NorSA en Vrolike Vinkies-dagsorg.”
Die behoefte aan gesondheidsdienste is groot, sê Handri Liebenberg, Wes-Kaapse gesondheid en welstand-direkteur van die Kaapse Wynland-distrik. “Ons invloed kan met die hulp van ander rolspelers baie groter wees en ons is ’n tree nader aan beter gesondheid en welstand, beklemtoon sy.
“Ons sê dankie aan die vennote wat ons tot nou ondersteun het en ek wil pasiënte gerusstel – al verander die diensverskaffer met wie jy bekend geraak het in jou omgewing, sal jy steeds ondersteun word. Jou welstand is steeds baie belangrik vir ons.”