Hoewel talle studente van die Universiteit Stellenbosch (US) verlede week soos ’n golf mense tydens ’n vreedsame betoging rondbeweeg het, blyk dit alles is nou weer terug na normaal.
Studente is verlede week aangemoedig om, soos hul mede-studente by tersiêre instansies oor die land heen, onder meer beswaar te maak oor ’n gebrek aan behuising en die registrasie van studente met uitstaande klasgeld.
’n Bron het aan Eikestadnuus gesê dit is hartseer dat studente wat nie direk geraak word nie, nie saam met die betogende studente gestaan het nie.
Betogende studente het verlede Donderdag (20 Februarie) by klasse ingestorm en die Neelsie-studentesentrum tydens hul betoging op horings geneem.
Studente wat nie aan die betoging deelgeneem het nie, was grootliks ontsteld dat hul studietyd ontwrig is.
Lede van die US-studenteraad (SR) en betogende studente het Donderdag by die administratiewe B-gebou getoi-toi en gewag vir die rektor om hul memorandum met eise te ontvang. Hier het die personeel egter die deure na die gebou toegetrek en toegang versper.
Die betogers het geëis dat terugkerende studente met minder as R10 000 studieskuld toegelaat word om te registreer. Verblyf vir senior en nagraadse studente is ook op die lys.
“Geen student moet gedwing word om op die grond te slaap weens ’n sistemiese mislukking binne die universiteit nie,” lui die memorandum. Teen laatmiddag het die groep nog ’n eis by hul memorandum gevoeg – dat geen studente wat aan die vreedsame optog deelgeneem het, dissiplinêr vervolg word nie.
Hoewel die rektor nie die memorandum in ontvangs wou neem nie, was dr. Leslie van Rooi byderhand. Die betogers het egter geweier om dit aan hom te oorhandig.
Later die middag het chaos egter uitgebreek toe die plaaslike polisie in Victoriastraat opgedaag het. “Dit is baie kommerwekkend dat die polisie só hardhandig opgetree het aangesien dit ’n vreedsame optog was. Niemand kan nou sê wie die polisie gebel het nie, maar geweld lok geweld,” meen die bron.
Die memorandum is sedertdien oorhandig en die US was teen Vrydag in gesprek met die SR, het Martin Viljoen, ’n woordvoerder vir die universiteit, bevestig. “Hoewel die US onderneem het om die uitdagings van studente die hoof te bied waar dit moontlik is en onverpoos daaraan gewerk het om geld daarvoor te bekom, betreur die universiteit die feit dat die akademiese programme van baie studente en personeellede – wat verkies het om nie by die betoging betrokke te raak nie – die afgelope paar dae ontwrig is,” het die US gesê.
“Wat die kommer van belanghebbendes, insluitend ouers en studente, oor die uitwerking op studente se veiligheid en hul akademiese werk betref, herhaal die universiteit dat dit die veiligheid en regte van alle studente en die integriteit van die akademiese program waaksaam sal beskerm.”
In ’n poging om hul eise aan te pak, het die US bevestig hy werk aan maatreëls om studente met uitstaande klasgeld te laat registreer. Meer as 600 studente, wat begunstigdes van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) is, is toegelaat om ten spyte van hul skuld te registreer, asook terugkerende studente wat R10 000 of minder skuld.
Studente het nou tot 28 Februarie om te registreer, met elke geval wat individueel oorweeg sal word, het Viljoen bevestig. Hy het bygevoeg studenteskuld kan egter nie net uitgewis word nie, hoewel die US inisiatiewe het om studente finansieel te help.
- Skenkings vir studente kan via die GivenGain-platform of op die US se webwerf www.sun.ac.za gegee word.