’n Nasionale gedenkwaardigheidsgebou in Stellenbosch het die afgelope week onder vandale deurgeloop toe die gebou se gedenkwaardigheidskenteken afgesteel is.
Die gedenkwaardigheidskenteken, wat die afgelope Maandag vermoedelik in die vroeë oggendure gesteel is by die geskiedkundige gebou, wat deesdae die Checkers-drankwinkel in Andringastraat huisves, is egter binne enkele dae teruggevind. Die gebou is in 1970 ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Tertius Kruger, mede-eienaar van die gebou, sê hulle is verheug en verlig dat dié waardevolle embleem teruggevind is.
“Die kenteken is meer waardevol as die randwaarde van die koper waaruit dit gemaak is. Dit het soveel meer betekenis vir ons.”
Volgens Kruger het die bestuur van die Checkers-drankwinkel (voorheen die Van der Stel-drankwinkel) hom Maandagoggend vroeg gekontak oor die kenteken asook die deurhandvatsel en koperplaat van die deur se briewegleuf wat weg is. “Ek het so gou as wat ek kon gekom om te kom kyk. Ek kon my oë nie glo nie, want ek het destyds toe ek dit opgesit het, gespog niemand sal dit kan afhaal nie, want ek het dit stewig met penne vasgemaak, maar dit blyk iemand het dit wel reggekry,” sê Kruger.
Hy sê hy het dit dadelik by polisie aangemeld en ook met die munisipaliteit en ander sakeondernemings gepraat en moontlike beeldmateriaal gevra.
Kruger vermoed die persoon wat dit afgehaal het, moes dit tydens beurtkrag – tussen 02:00 en 04:30 – met ’n breekyster gedoen het. “Ek het ’n bietjie rondgevra en dit blyk ander geboue word ’n geruime tyd al gevandaliseer. Die skelm moes tyd gehad het om die goed te kon afhaal.”
Die gedenkwaardigheidskenteken tesame met nog twee kleiner kentekens en 10 aluminium letters is egter Maandag in ’n swart rugsak by die Cloetesville-polisiekantoor ingegee. Die artikels is glo deur ’n lid van die publiek in die veld naby die skrootwerke in Cloetesville gevind en by die polisie ingegee. “By verdere ondersoek is vasgestel dat die gedenktekens by ’n gebou in die middedorp gesteel is. Dit kon egter aan die eienaars terugbesorg word,” het AO Zenobia Sedeman, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Al die ander artikels wat ook in die rugsak was, is in Kruger se besit en enigeen wat hul gedenkteken of aluminiumletters soek, kan Kruger by 082 772 9035 skakel.