’n Gesteelde blou Hyundai i10 is teruggevind – beskadig en sonder agterwiele.Foto: Klapmuts News/ Nuus/ Facebook


’n Motoreienaar het groot skade opgedoen nadat haar motor Sondagaand (25 Augustus) in Klapmuts gesteel en ’n paar uur later gestroop en verlate gevind is.

Volgens die motoreienaar het sy Sondagaand haar motor in Merchentstraat geparkeer, maar toe sy die volgende oggend in haar motor wou klim, was die blou Hyundai i10 nêrens te vinde nie.

“Hulle moes my kar tussen 23:00 Sondagaand en 06:00 Maandagoggend gesteel het,” sê sy.

’n Klagte is dadelik by die Klapmuts-polisie aangemeld. Volgens sers. Madilyn Dombas, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, was die motor voor die huis en buitekant die hek geparkeer.

Sowat vier ure later, omstreeks 10:00, het ’n motoris die blou Hyundai op ’n oop stuk grond langs die Klapmuts-Simondiumpad in die Spooky Town-gebied gewaar.

Dié gebied is agter die bekende rooi gebou waarin die Meem Alif-supermark geleë is. Met die motoreienaar se aankoms op die toneel, het sy haar motor gewaar, gestroop en met verskeie stampplekke. Die binnekant van die motor was ook vol modder.

“My kar het in die modder vasgesit en toe stroop hulle die kar omdat hulle nie verder kon ry nie.”

Volgens haar het die motordiewe al twee die agterwiele en die spaarwiel gesteel, en die motor op verskeie plekke gestamp.

“Die kar is ook baie vuil aan die binnekant soos hulle uit die modder probeer kom het. Die ruite is ook swart soos hulle [die diewe] gerook het en die sitplekke is gebrand.”

Die motoreienaar verduidelik dat sy op die toneel vir die Klapmuts-polisie gewag het om haar verklaring te neem, asook vingerafdrukke, maar volgens haar kon die polisie nie uitkom nie omdat hulle glo nie ’n voertuig gehad het nie.

Sy meen die diens van die Klapmuts-polisie was “teleurstellend” omdat hulle nie stiptelik op haar klagte gereageer het nie, wat veroorsaak het dat sy self die polisiekantoor die afgelope Dinsdag moes besoek om die vordering van die saak op te volg.

“Ek gebruik my kar elke dag vir werk en het nie meer versekering nie, dus is dit ’n groot terugslag,” sê sy.

Volgens haar weet die Klapmuts-polisie wel wie een van die vermeende oortreders is en vermoed altesaam drie diewe was by die motordiefstal betrokke.

“Hulle [die Klapmuts-polisie] het gesê dat een van hulle [die rowers] onlangs uit die tronk vrygelaat is, en dat hy ook ’n fiets gesteel het.”

Dombas het bevestig ’n saak van motordiefstal word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.