Rafiek Parker (op sy handfiets) saam met sy vriend Rayaan Ahmed, vir wie hy die dag van die voorval in Wellington gaan kuier het.Foto:

Credit: SYSTEM

’n Gestremde man van Athlone is Maandag 21 November glo helder oordag in Cloetesville van sy fietsgereedskap beroof.

Rafiek Parker, ’n Polio-lyer, was op pad na Wellington toe drie mans hom omstreeks 07:50 oorval en van sy gereedskapsak beroof het. In die blou sak was ’n fietspompie, binnebande, ’n lig en ander fietsgereedskap.

“Ek het deur die nywerheidsgebied gery. Toe ek by die tweede heuwel kom, het drie mans my genader en my sak afgevat. Ek het verder gery en ’n polisievoertuig wat verby gery het, voorgekeer en daarvan vertel,” sê hy.

Parker was haastig op pad na Wellington en wou nie stop om ’n formele klagte aan te meld nie.

“Ek het toe die Vrydag ’n oproep gekry dat my sak gevind is en dat ek dit moet kom afhaal, maar toe ek Maandag in Stellenbosch kom, kon my sak nie by een van die polisiekantore opgespoor word nie. Ek het toe ’n saaknommer gekry en hoop maar nou hulle kry my goed.

“Ek is baie hartseer. Om te dink dat hulle nie eens skaam kry om ’n gestremde te beroof nie. Ek ry gereeld deur bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte, maar ek is nog nooit daar beroof nie,” sê Parker.

Parker ry al die afgelope tien jaar met sy handfiets en hoop om sy gereedskap voor Saterdag 3 Desember terug te kry wanneer hy na die Wheels 2 Heal-fietstoer in Mosselbaai vertrek.. Enigeen met inligting oor die sak met die gereedskap kan Parker by 073 532 9544 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.