Die Banhoek-omgewing was weer eens die afgelope naweek die teiken van gewapende rowers.

Vier gewapende mans het in die middernagtelike ure by ’n huis hier ingebreek. Die verdagtes was met vuurwapens en koevoete gewapen. Tydens die inbraak het hulle die inwoners vasgebind.

Die verdagtes het verskeie artikels gesteel en kon wegkom nog voordat die polisie op die toneel kon kom.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Dit is nie die eerste keer dat misdadigers in die Banhoek-omgewing toeslaan nie.

Eikestadnuus het vroeër vanjaar ook berig oor vier gewapende mans wat onderskeidelik op 12 Junie en 26 Junie by ’n gastehuis en ’n plaas in dieselfde omgewing toegesak het.

Albei hierdie voorvalle het ook in die middernagtelike ure gebeur.

Enigiemand met inligting wat die Groot Drakenstein-polisie met die ondersoek kan help, word gevra om hulle by 021 874 8000 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.