Die Klapmuts-polisiëringsgebied het die afgelope week onder twee afsonderlike misdaadvoorvalle deurgeloop waarin ’n egpaar van die ’n spog-landgoed aangeval en die eienaar van ’n winkel geskiet is.
Die landgoed in Simondium het Donderdag 19 Oktober onder vier inbrekers deurgeloop wat sowat R600 000 se goedere gesteel het toe hulle toegang tot die hoofhuis verkry het.
“Om 21:00 het die egpaar gaan slaap en is later wakker gemaak deur vier onbekende mans wat handskoene en klapmusse gedra het. Die verdagtes het toe die klere van die slagoffers geneem en dit geskeur en gebruik om hulle vas te bind,” volgens sers. Jacobus Moos, stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie.
Volgens Moos het die verdagtes die man met ’n koevoet op sy bene geslaan, maar het hy geen ernstige wonde opgedoen nie.
Ná die verdagtes elektroniese apparate en juwele gesteel het, het hulle die man wat losgekom en om hulp geroep het probeer vang, maar hy het hulle ontduik.
Dinsdag 24 Oktober is die Centre Point-kruidenierswarewinkel in Klapmuts se hoofstraat ook beroof en die eienaar geskiet.
“Omstreeks 07:00 het die winkeleienaar sy winkel geopen, en terwyl die personeel die winkel betree het, het vier onbekende mans met vuurwapens ook die winkel binnegegaan,” het Moos laat blyk.
Een van die verdagtes het die winkeleienaar met ’n vuurwapen gekonfronteer en kontant geëis waarna die eienaar toe aangerand is.
Hy het ’n onbekende bedrag geld oorhandig, waarna een verdagte die eienaar se broer in die maag geskiet het.
“Die verdagtes het toe van die toneel gevlug, en die beseerde is na die Paarl-hospitaal geneem en is tans in ’n stabiele toestand,” volgens Moos.
Albei voorvalle word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Verder het ’n vragmotor wat drank vervoer Vrydag 27 Oktober net ná die Klapmuts-verkeersligte omgeslaan.
Volgens Moos het ’n vragmotor in Wellington se rigting gery en net ná die verkeersligte teen ’n afwaartse helling gestop. Dit het veroorsaak dat die drank uit die vragmotor geval het.
“Die gemeenskap en reisigers op die pad het die voorval gesien en die drank wat buite die vragmotor gelê het, opgetel.