Huis Horison het Vrydag 11 Maart sy jaarlikse gholfdag by die Stellenbosch-gholfbaan gehou en meer as R250 000 vir dié tuiste ingesamel.
Die suksesvolle gholfdag is ten bate van mense wat intellektueel gestrem is.
“Ons is so trots dat hierdie gholfdag ’n hoogtepunt op die Stellenbosch-gholfklub se kalender is. Die gehalte van pryse, die organisatoriese vlak, goeie diens en die heerlike etes dra alles tot ’n topvlak-gholfdag by,” het Elzabi van Wyk, bestuurder van ontwikkeling by Huis Horison gesê.
Van Wyk sê die spelers geniet die spesiale ervaring van die dag – van registrasie tot die atmosfeer van die nat- en bemarkingsgate op die baan.
“Talle staatmakerspanne neem al getrou vir 10 jaar of langer, jaar ná jaar, aan die gholfdag deel. Almal sien daarna uit om die aandgeselligheid by te woon, en tesame met die opwinding van die veiling, is dit die perfekte afronding vir ’n sosiale dag, gevul met die tevredenheid van almal wat hul tyd en hart vir ’n goeie saak gegee het.”
Die weervoorspelling het ’n snikhete dag voorspel, maar ’n bietjie reën het alles afgekoel en die spelers het ’n heerlike dag se gholf geniet.
Die wenners van die gholfdag was die span van Dorp – Bennie Gerber, Arthur Johnson, Marcus Oosthuizen en Stephan Lubbe.
Die naaswenners en die beste vrouespan was Annelize Pretorius, Suné Botham, René Smuts en Chrizanne van Zyl.
“Huis Horison bedank ons hoofborg, Cluver Markotter, wat al 10 jaar die gholfdag se hoofborg is. Ons wil ook dankie sê aan al die ander borge, sakeondernemings en individue wat die dag deur middel van borgskappe en skenkings ondersteun en tot die sukses bydra.”