Gholfdag styf fonds

Die Burgemeestersfonds speel ’n belangrike rol en bied die burgemeester ’n geleentheid om gemeenskappe in nood, soos bepaal deur die munisipaliteit se finansiële riglyne, te hulp te snel.


Die Burgemeestersfonds speel ’n belangrike rol en bied die burgemeester ’n geleentheid om gemeenskappe in nood, soos bepaal deur die munisipaliteit se finansiële riglyne, te hulp te snel.

En terwyl die meeste van hierdie versoeke deur die normale hulptoelae-beleid aandag geniet, val talle verdienstelike versoeke buite die grense van die beleid. Volgens adv. Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, word hierdie versoeke juis deur die Burgemeestersfonds gehelp en die Burgemeestersgholfdag is ’n belangrike funksie om geld in te samel.

Vanjaar het die Burgemeesters-gholfdag altesaam R110 000 ingesamel.

“As burgemeester ontvang ek gereeld versoeke om hulp van inwoners wat in nood verkeer of hulp nodig het. My fokus met die fonds is absoluut om inwoners te help en by te staan wat deur uiters moeilike omstandighede gaan of graag ’n geleentheid wil skep binne hul gemeenskap, maar nie die hulpbronne het om dit te doen nie. Ons hulpbronne is egter beperk en ons oorweeg elke aansoek baie deeglik,” sê Van Deventer.

Oor die laaste paar jaar het die Burgemeestersfonds hulp verleen aan hulpbehoewende families wat swaarkry, asook vir die Hoërskool Cloetesville se jaarlike atletiekbyeenkoms, vervoer vir begunstigdes van titelaktes na die geleenthede toe en ook boumateriaal aan Lanquedoc-families wie se dakke in die stormweer beskadig is. Die fonds het ook die vervoerkoste van die bejaardes se uitstappie na Swellendam gefinansier asook ’n gemeenskapsgeleentheid in Cloetesville.

Die Burgemeestersfonds is ingevolge Seksie 12 van die munisipale finansiële bestuurswet gestig. “Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat die fonds onder streng reëls bestuur en geoudit word, om die misbruik en wanaanwending daarvan te vermy,” verduidelik Van Deventer.

“Ek wil graag ’n opregte woord van dank uitspreek aan elke deelnemer, elke borg, elke persoon vir hul bydraes en deelname.

“Baie dankie ook aan die Stellenbosch-gholfklub en raadslid Rikus Badenhorst vir die puik organisering van hierdie geleentheid.

“Die geld wat hier ingesamel word gaan werklik ’n verskil maak vir behoeftige inwoners, ” voeg Van Deventer by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.