Van links is Stephanie ME Sandler (afrigter), Mariella Smit (vlak 6), Sofia Kröger (vlak 6), Leila Oosthuizen (vlak 5), Alisha Withbooy, Anja van Coller en Zoe Bothma (vlak 4).


Agt ritmiese gimnaste van die Stellenbosch-gimnastiekklub is op pad na die Suid-Afrikaanse Gimnastiekspele om hul talent daar ten toon te stel.

Ritmiese gimnastiek is een van die agt gimnastiek-dissiplines wat deur die Federasie van Internasionale Gimnastiek (FIG) erken word.

“Ons ritmiese gimnaste gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse Gimnastiekspele, wat van 29 September tot 7 Oktober by WITS Universiteit se Old Mutual-sportsaal in Johannesburg plaasvind,” sê Ansuné Kröger van SGK.

“Agt ritmiese gimnaste wat van die Van der Stel-gimnastiekklub, wat by die Wes-Kaapse kampioenskap gekwalifiseer en medaljes verwerf het, neem deel. Al agt gimnaste word deur die voormalige Olimpiese ritmiese gimnas Stephanie ME Sandler, wat aan die Olimpiese Spele in Athene in 2004 deelgeneem het, afgerig” voeg sy by.

Kröger sê vir die meeste van hierdie gimnaste sal dit hul eerste deelname aan die SA Gimnastiekspele wees.

“Mariella Smit gaan vanjaar weer deelneem. Mariella het die goue medalje vir haar vlak 5-lintroetine by verlede jaar se byeenkoms gewen, en die hoogste punt vir lint behaal uit meer as 140 gimnaste wat in vlak 5 meeding.

“Baie sterkte aan ons agt gimnaste. Ons wens julle al die beste toe en is trots dat julle ons in Johannesburg gaan verteenwoordig.”

You need to be Logged In to leave a comment.