Die 2024-Dakar-veldtydren, wat vanjaar die vyfde keer in Saoedi-Arabië beslis word, het verlede Vrydag (5 Januarie) nie baie goed vir Suid-Afrika se Dakar-koning van Stellenbosch, Giniel de Villiers, begin nie.
Sedertdien het dié Stellenbosser egter getrou aan sy ervaring van 20 jaar in die wêreld se moeilikste motorren die kop laat sak, vasgebyt en deurgedruk, met ’n top-10-posisie in die eerste helfte nou binne sy bereik.
De Villiers en sy navigator, Dennis Murphy, het in Vrydag se voorren, waarin die wegspringposisies bepaal is, verdwaal en ’n teleurstellende 69ste wegspringplek in hul Toyota Gazoo Racing-Hilux aangeteken – heel agter al die SA deelnemers en sy drie SA-spanmaats in identiese TGR-Hilux’e.
De Villiers het egter Saterdag gewys hy is nie om dowe neute ’n voormalige wenner nie en 66 posisies ingehaal om derde oor die wenstreep te jaag. Maar toe tref die noodlot met stof, klippe en pap bande in Sondag se tweede sneltrajek, waarin hy tot 22ste teruggesak het – nie juis ’n plek waarvan hy hou nie.
Maandag was weer ’n moeilike dag, maar weer eens was De Villiers die beste van sy spanmaats en al die ander SA jaers in ’n verskeidenheid motors en hy het die 16de vinnigste tyd vir die dag aangeteken – op daardie tydstip 14de algeheel.
“Maandag was nog ’n moeilike dag. Ongelukkig het ons twee pap wiele in die eerste 70 km opgedoen, en toe was die partytjie verby. Ons was in die stof, en ek moes net bestendig ry. Dit was onmoontlik om te druk, want as jy nog ’n pap band kry, het jy ’n groot probleem. Jy sal nie die einde sien nie. So, ja, dit was baie, baie frustrerend. Maar, hoe dit ook al sy – ons het die einde gehaal.”
Dinsdag (9 Januarie) het nog stof en pap bande hom 19de vinnigste vir die dag laat eindig, maar verbasend genoeg tot 11de algeheel verhef – met ’n top-10-posisie nou binne sy bereik.
“Ons het nog ’n frustrerende dag gehad. Vanoggend het ek die motor voor my ingehaal en was dadelik in die stof. Ek het ’n tydjie daar verloor, maar kon verby hom kom. Ongelukkig, ’n entjie verder, het ons ’n klip net-net raakgery en ’n pap band gehad. Seth (Quintero; TGR-Hilux) het verby my gekom, en die ander ou wat ek pas verbygesteek het, het ook verbygekom. Ek moes dadelik weer ’n paar minute terugsak in die stof, wat navigasie moeilik gemaak het. Toe sien ek Seth aan die kant van die pad en ek het by hom stilgehou. Hy het gesê sy motor se hele pens is vol olie en ons kon niks doen om hom te help nie. Ons sal môre maar weer probeer.”
Gister (Woensdag 10 Januarie) se kort Sneltrajek 5 het die deelnemers na die sogenaamde Leë Kwartier (Empty Quarter) geneem voordat die rusdag Saterdag aanbreek.
- Die 2024-Dakar-veldtydren eindig Vrydag 15 Januarie.