Giniel de Villiers, Suid-Afrika se Dakar-held, kan nou met reg die Dakar-koning genoem word.
Dié Stellenbosser het die afgelope naweek sy 21ste agtereenvolgende Dakar-veldtydren voltooi – en almal daarvan buiten een, toe sy motor in vlamme uitgebars het, onder die top-10. Dié voorval het hom destyds (in 2007) die top-10 net-net laat mis toe hy 11de was. Hy was 15 keer onder die topvyf.
De Villiers het vanjaar ’n baie uitdagende Dakar-ren gehad – buiten pap bande en tegniese probleme waarmee hy van sy spanmaats gehelp en sodoende tyd verloor het, was navigasieprobleme die grootste klip in sy pad.
Hy en sy navigator, Dennis Murphy, het in omtrent die helfte van die 2024-byeenkoms se 12 sneltrajekte in die uitdagende omgewing van die woestyn in Saoedi-Arabië verdwaal, een keer ’n navigasiepunt heeltemal misgery, wat hulle 15 minute boetetyd gekos het, en moes ’n paar keer omdraai om die regte roete te kry.
De Villiers-hulle was uiteindelik sewende algeheel – nadat hulle die grootste deel van die ren in die topvyf was.
“Dit is natuurlik nie regtig soos ons dit wou gehad het nie, maar ons is hier; ons het klaargemaak,” het die 51-jarige Dakar-meester Vrydag (19 Januarie) by die eindpunt in die Saoediese kusdorpie Janboe gesê.
De Villiers het ook sy dank uitgespreek aan sy tegniese span vir hul volgehoue steun by elke oornagpunt waar hulle aan die motor kon werk, sowel as op die rusdag waar hulle die hele motor vir alle praktiese doeleindes herbou het.
“Hulle het puik werk gedoen. Ons is bly om hier te wees – nog een agter die rug. Dit was gewis ’n baie moeilike een vanjaar, maar ons is baie bly om by die einde te wees.”

De Villiers, die eerste en enigste Suid-Afrikaner nog wat die Dakar gewen het, het in sy 21 Dakar-renne altesaam 175 304 km met die voet in die hoek gejaag – amper die helfte van die afstand maan toe (384 400 km) of amper vyf keer om die aardbol (40 075 km).
Om ’n mens ’n idee te gee van hoe lank hy styf vasgegespe in die kajuit teen nekbreeksnelhede gejaag het – hy was die eerste Dakar-jaer wat op al die vastelande waar die ren aangebied is – Europa, Afrika, Suid-Amerika en nou die Midde-Ooste, in aksie was. Sy 21 Dakar-renne se saamgestelde tyd op die stophorlosie was 56 768 minute. Dit kom neer op 39 dae sonder ophou (946 uur). O ja, en agt minute . . .
En dit was net die volspoed-afstande teen die stophorlosie – sonder die ooppadgedeeltes tussen die oornaghaltes na en van die sneltrajekte (vanjaar se algehele afstand was byvoorbeeld 7 591 km, waarvan 4 688 km sneltrajekte en die oorblywende 2 903 km op die oop pad was).
“Giniel is maar beskeie, so ek doen maar al die brêgwerk,” sê sy trotse pa, Smittie, wat self op sy dag ’n renjaer was. “Ek het sy eerste renmotor, ’n go-cart, vir hom gebou toe hy maar vier jaar oud was. Kyk waar is hy vandag!”