Die verheugde personeel van Gino’s De Kelder in Stellenbosch is van links agter is Khanyile Maqokolo, Cynthia Dubs Mithini, Flora Gomeni, Siyavuya Matshingana, Odwa Papa en Ayanda Rafuza. Sittend: Eslinah Ngxokozelo, Pretty Sisinga, Sindiswa Kewu en Emily Magadlela. Voor: Maxwell Sidiki.Foto:


’n Restaurant in Stellenbosch het die derde plek in vanjaar se Porcupine Ridge pizzeria-uitdaging verower.

Gino’s De Kelder, ’n eetplek in Dorpstraat, het weer in die toptien van die gesogte kompetisie, waar klante van die deelnemende restaurante vir hul gunsteling pizzeria gestem het, geëindig. Die plaaslike restaurant het verlede jaar die vierde plek op die lys beklee. Die toptwee plekke is onderskeidelik deur die Johanneburg-restaurante, Gino’s (Robertsham) en Osteria Rossa (Bedfordview), verower, terwyl verlede jaar se wenner, Ferdinando’s Pizza in Observatory, in die vierde plek geëindig het.

Die res van die toptien is: Mooiuitsig Kombuis (Groot Brakrivier); Piccola Rossa (Edenvale); Corlies Italian (Somerset-Wes); Julia’s Eatalian (Potchefstroom); Lucio’s Pizzeria (Northcliff); en Enzo Pizzeria Trattoria (Scottburgh).

Dis Stellenbosse restaurant, wat vir die laaste 27 jaar bedryf word, is verheug oor sy prestasie en vier ook die feit dat sy Johannesburgse restaurant met dieselfde naam die eerste plek in die sterk betwiste kompetisie gewen het.

Alhoewel die oorspronklike Gino’s, wat sy deure op 1 November 1983 in Robertsham geopen het, die geesteskind van oudste seun Gino is, is die hele gesin van pa Guiseppe (Babbo) tot ma Antonia, susters Caremela en Maria en jongste broer Domenico (Dom) in ware Italianse styl in die onderneming betrek.

Vandag is daar twee familie-bestuurde restaurante. Die oorspronklike Gino’s is steeds in die hartjie van Robertsham en word deur Mazza, sy suster Carmela en dogter Guiliette bedryf. Die tweede Gino’s is in 1996 in Stellenbosch met Dom aan die stuur geopen.

“Ons is in ekstase met die nuus dat ons vir ’n derde agtereenvolgende jaar die toptien-lys gehaal het, en verheug om dit tot die derde plek op die lys te maak,” het Dom oor die restaurant se prestasie gesê. “Dit is bemoedigend om deur ons lojale kliënte wat hierdie prestasie moontlik gemaak het, waardeer te word. Sienende dat ons die afgelope 27 jaar in ons klein dorpie bedrywig is, en 40 jaar in Johannesburg, het ons noue verhoudings en vriendskappe met ons kliënte gebou. Ons sal aanstaande jaar weer in die kompetisie deelneem en ons wil graag ons plek op die lys verbeter!”

Lynton Kaiser, verkoops- en bemarkingsbestuurder van Porcupine Ridge-wyne, het gesê hulle is verheug dat die pizza-liefhebbers en pizzeria’s in Suid-Afrika die Porcupine Ridge pizzeria-uitdaging ondersteun. “Almal het hulle gunsteling pizza-plek en hierdie kompetisie gee kliente die kans om hulle ondersteuning van daardie eetplek bekend te maak – hopelik met ’n glasie Porcupine Ridge in die hand,” het hy verduidelik.

“Geluk aan al die pizzeria’s in die toptien en ’n groot ‘dankie’ aan alle deelnemers wat vanjaar aan die kompetisie deelgeneem het, en dat julle sulke heerlike pizza’s opgedis het. Ons dankbaarheid gaan ook uit aan diegene wat hul gunsteling eetplekke ondersteun het en tyd geneem het om te stem.”

You need to be Logged In to leave a comment.