Elizabeth Japie, wat van die dood van haar susterskind aangekla word, sal in aanhouding bly.
Dit was die uitspraak in die Stellenbosch-landdroshof waar die 57-jarige Maandag en Dinsdag vir haar borgtogaansoek verskyn het.
Zandré Japie (6) is Vrydag 3 Mei in Japie se Jamestown-huis dood aangetref. Die seun is glo ’n kort ruk voor sy dood deur sy ma na Japie gestuur omdat sy glo nie plek in ’n skool kon kry nie.
Volgens die voorlopige ondersoek blyk dit egter Zandré is bedags alleen by die huis gelaat. Dit blyk die sesjarige is voor sy dood met ’n knopkierie en sambok geslaan.
Japie is Woensdag 22 Mei aangekeer en word nou deur 10 aanklagte van onder meer moord en kindermishandeling in die gesig gestaar.
Die ondersoekbeampte, sers. Roger Jooste, het Maandag (10 Junie) aan die hof gesê die staatspatoloog wat Zandré se lykskouing uitgevoer het, was só geskok deur sy bevindings dat hy die departement van maatskaplike dienste gekontak en aangeraai het om Japie se 12-jarige seun uit haar sorg te verwyder.
Die kind is intussen in ’n plek van veiligheid geplaas.
Benewens die bewyse wat reeds deur die polisie in verband met Zandré se dood geïn is, het Jooste ook uitgewys dat Japie reeds ingemeng het met die ondersoek deur haar woning skoon te maak terwyl die polisie steeds op die misdaadtoneel besig was.
Japie se regsverteenwoordiger, Thelca Arendsen, het gesê dit sal in Japie, as die enigste broodwinner vir haar kinders, sowel as haar suster en dié se kinders se beste belang wees om Japie op borgtog vry te laat.
William da Grass, vir die staat, het egter nie saamgestem nie en aangevoer gegewe die wreedheid van Zandré se dood sowel as die feit dat hy ’n minderjarige was, moet die saak in ’n ernstige lig beskou word.
Die hof het ook gehoor dat ander familiekinders vroeër uit Japie se sorg verwyder is. Inligting oor wat presies die omstandighede van dié verwydering was, is nie bekend nie, aangesien die polisie aansoek sal moet doen om die amptelike dokumente van die departement te bekom aangesien ’n minderjarige betrokke is.
Die hof het Dinsdag (11 Junie) bevind geen buitengewone omstandighede wat dit noodsaak dat Japie op borgtog vrygelaat word, geld nie. Inteendeel, die hof het onder meer bevind Japie se bekendheid met die moontlike staatsgetuies, die erns van die aanklagte, sowel as ’n petisie van StellSorg, wat Japie se borgtog teenstaan, is genoeg rede hoekom Japie agter tralies moet bly.
Die saak is tot Vrydag 26 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.