Goeie nuus! kykNET soek weer deelnemers vir Plaasjapie

’n Tweede Plaasjapie-reeks is op pad! En as jy die verskil van ’n stoep-en-tee-boer en ’n murg-en-been-boer ken, is dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks jou kans. Daarbenewens is die aanloklike R1-miljoen-prysgeld natuurlik ook o0p die spel.


’n Tweede Plaasjapie-reeks is op pad!

En as jy die verskil van ’n stoep-en-tee-boer en ’n murg-en-been-boer ken, is dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks jou kans. Daarbenewens is die aanloklike R1-miljoen-prysgeld natuurlik ook o0p die spel.

Stellenbosch

Ewan Strydom aanbieder van Plaasjapie.

Net soos in die eerste seisoen gaan 20 deelnemers mekaar die stryd aansê om hul staal en boervernuf te toon. Dit is egter net daar waar die kinkel lê. Plaasjapie is nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stads- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.

Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag die omstandighede? Het jy al in ’n basiese skuur sonder veel geriewe saam met 19 vreemdelinge gebly?

Wees verseker– dit gaan ’n gegekonkel en dalk by tye ook gekul wees. Planne gaan gesmee word met alliansies en ander gaan jou weer onder die spreekwoordelike bus, of eerder trekker, probeer gooi – alles ter wille van oorlewing vir daardie R1-miljoen-prysgeld.

Hoewel jy deurentyd bewus moet bly van die onderstrominge in die groep, moet jy ook fokus op take wat voltooi moet word. Dit gaan harde werk wees en soms gaan jy dalk wonder of jy die regte ding gedoen het. Dit is egter waaroor dit gaan om ’n boer te wees – om uit te hou, aan te hou en altyd met ’n doenbare plan vorendag te kom.

Dian Louw van Pretoria was die wenner van die eerste reeks. Hy het soos ’n veteraan draad gespan en skape aangejaag – iets wat myle buite sy gemaksone as kunstenaar was.

“Ek het flippen hard gewerk en alles gedoen om my plek op die plaas te verdien sodat niemand die vinger kon wys dat ek lyfwegsteek nie,” het hy verlede jaar gesê nadat hy as wenner aangewys is.

Hoe voel Dian oor Plaasjapie 2?

Dian moedig mense baie entoesiasties aan om vir vanjaar se reeks in te skryf, want hy sê dis ’n ervaring wat jou hart verander.

“Dit is die avontuur van ’n leeftyd. Jy leer nie net meer van jouself ken nie, maar ook van ander mense, die plaas en hoe boere dit doen. Ek lê party aande en kan steeds nie glo ek het dit gedoen nie. Dit voel soos ’n droom.

“Skryf in; toets jouself. Dis maklik om op die bank te sit en te dink jy kan dit maklik doen . . . totdat jy daar is en jy met verlange en snaakse persoonlikhede moet deal.

“Jy leer om stil te wees en in daai stiltes groei jy ook. Of dit die eerste of laaste dag is wat jy daar wegstap – jy leer iets oor jouself, van ander mense en die lewe. Dan is daar die verbintenis met die natuur.

“Ek sit deesdae ook maklik my foon weg. Ek kan dit doen; ek het 21 dae daarsonder deurgebring. Dis net lekker om te weet dis back to basics. Dis een ongelooflike avontuur. Staan van die rusbank af op en staan op vir jouself.”

Die programaanbieder, Ewan Strydom, het Dian se sukses in Plaasjapie 1 onder meer daaraan toegeskryf dat hy alles sistematies en kalm aangepak het.

Hoe om in te skryf

Inskrywings het op 26 Julie geopen en sluit weer op 25 Augustus 2023. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie.

Gaan na kyknet.tv om jou aanlyn aansoekvorm te voltooi en terselfdertyd ook jou video (nie langer as drie minute nie) en ’n onlangse foto van jouself op te laai.

Jou inskrywingsvideo moet die volgende bevat: . Stel jouself bekend; . Vertel meer oor jouself; . Vertel waar jy nou bly; . Verduidelik hoekom jy ’n Plaasjapie-deelnemer wil wees.. Hoe oud moet iemand wees om deel te neem? Ten minste 18 jaar oud op die dag wat jy inskryfvorm voltooi.. Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse burger wat ’n geldige identiteitsdokument het. . Hoe lank gaan die verfilming duur? Dit behoort nie langer as 25 dae te neem nie.. Wanneer word die verfilming gedoen? Deelnemers moet in Oktober 2023 beskikbaar wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.