Kenners reken die 2022-parsseisoen het stadig begin en koeler weerstoestande in die aanloop tot die piekseisoen het rypwording verlangsaam. Bo pars plaaswerkers cabernet franc op die plaas Helderkruin. Foto: Francois Lombard


Produsente en kenners is hoopvol vir ’n goeie 2022-oesjaar ondanks ’n verlengde en vertraagde parsseisoen wat hoofsaaklik aan veranderde weerstoestande toegeskryf word.

Kenners reken die 2022-parsseisoen het stadig begin en koeler weerstoestande in die aanloop tot die piekseisoen het rypwording verlangsaam.

Goeie koue en bogemiddelde reënval in die winter het waterbronne goed aangevul en voldoende koue opgebou. Koeler weer het ook daartoe gelei dat groeifases reg deur alle streke – van bot tot blom, deurslaan en rypwording – later as gewoonlik plaasgevind het.

“Die hele seisoen was later. Die wingerd het laat gebot, laat geblom, en die druiwe het twee weke laat gekleur. Dit verander jaarliks, maar dit eindig gewoonlik tussen 15 en 30 Maart. Die goeie winter wat ons gehad het in 2021, en koeler weer en grond rondom bot het die seisoen later laat begin,” sê Abrie Beeslaar, keldermeester by Kanonkop-wynlandgoed.

Hoewel hitte in Desember en Januarie die rypwordingstempo versnel het, het wingerde steeds nie die agterstand ingehaal nie.

Victor Sperling van Delheim-wyne meen die impak van die verlengde parsseisoen op wynproduksie gaan net ’n later oorskakeling van oesjare in terme van verkope in die mark hê.

Daar is nie groot impak op die boerdery op Delheim nie.

“Natuurlik is die klimaat die toestande wat ’n invloed het op rypwording – Covid kan dalk nog ook ’n impak op die werksmag hê. By Delheim eindig ons parsseisoen ongeveer einde Maart. Middel April oes ons weer ons riesling botrytis vir ons noble late harvest. Vanjaar se oesjaar was ’n bo-gemiddelde oplewering vir Delheim in gehalte en volume en ons sien uit om ons 2022-oesjaar te deel,” aldus Sperling.

Beeslaar sê die lengte van die seisoen bepaal gewoonlik nie die produksie nie.

“Indien die seisoen baie laat raak, kan die natter, kouer herfs weer die druiwe laat vrot, en dit kan die produksie negatief beïnvloed. Ons hoop vir lekker vroeë herfsreën wat dan goeie reserwes kan bewerkstellig wat ’n uitwerking op die 2023-oes sal hê.

“Die gehalte van die 2022-seisoen lyk uitstekend, en die warm weer wat ons nou in middel-Maart ervaar help om die laat kultivars soos cabernet, mooi ryp te maak. Spaar jul geld, en belê in 2022-wyne,” voeg Beeslaar by.

“Einde ten laaste het produsente in al 10 die wyndruifverbouingstreke begin pars, met redelike verskille tussen die onderlinge streke wat betref op- en afwaartse skattings vanweë die geografiese diversiteit,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Volgens die derde skatting deur wingerdkundiges en produsentekelders, wat die SA wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) en Vinpro gesamentlik teen die middel van Februarie uitgereik het, sal die 2022-wyndruifoes steeds kleiner as in 2021 wees, in pas met die vorige skatting in Januarie.

Die afname word hoofsaaklik toegeskryf aan wingerduit­kap­pings, swamdruk weens onge­kende reënval en sonbrandskade weens hittepieke gedurende Januarie in sekere streke.

You need to be Logged In to leave a comment.