Na ’n uitdagende 2024-seisoen, gekenmerk deur uiterste weersomstandighede, is Suid-Afrikaanse wynprodusente optimisties oor die 2025-oes.
Meeste wynstreke het bo-gemiddelde winterreënval ervaar, met verbeterde koue-eenheidakkumulasie en minimale rypbeskadiging, wat produsente hoopvol laat oor die nuwe seisoen. Dit is volgens oesvoorspellings saamgestel deur die bedryfsorganisasies Vinpro en SAWIS.
Die winter het rekordreënval in baie streke gebring, wat damme gevul het. Die wingerde het ook redelike koolhidraatreserwes opgebou danksy laer siektedruk en gunstige groeitoestande ná die oes. Boere het oor die algemeen later gesnoei om die risiko van rypbeskadiging te verminder, wat, in kombinasie met huidige lentetoestande, ’n meer egalige knopbreek verseker het.
Gedurende die trosaanvangsperiode van die vorige groeiseisoen het ongewone koel en nat toestande in die binnelandse streke en warm en winderige toestande in die kusgebiede geheers. Hierdie onreëlmatige weerpatrone kon trosaanvang in 2024 beïnvloed het, wat noodsaaklik is vir die grootte en kwaliteit van die oes van 2025.
Alhoewel sommige wingerde steeds van vloedskade herstel, en die effekte van die afnemende nasionale wingerdoppervlakte en toename in gemiddelde wingerdouderdom sekerlik ’n rol speel, word ’n goeie kwaliteit oes volgende jaar oor alle streke verwag. Belangrike faktore wat die finale oesskatting bepaal, is weerverwant, insluitend siektedruk en die impak van toestande, soos wind, tydens blom en bessie-set.
Wanneer huidige toestande met langtermynneigings vergelyk word, moet noukeurig aandag gegee word aan die kultivar-spektrum, aangesien sommige kultivars natuurlik laer opbrengste lewer.
“Die 2025-oes het potensiaal vir herstel ná ’n uitdagende 2024, danksy gunstige wintertoestande en verbeterde toestande vir reserwe-opbou. Nietemin is dit noodsaaklik dat produsente die beskikbare gereedskap gebruik om by weerspatrone aan te pas om volhoubare produksie te verseker,” het dr. Etienne Terblanche, hoof van Vinpro Konsultasiedienste, gesê.
Suid-Afrika se wynbedryf toon steeds veerkragtigheid en, met gunstige klimatologiese toestande, kan die 2025-oes ’n terugkeer na uitsonderlike kwaliteit aandui. Verbeterde jaar-op-jaar damvlakke, verhoogde reënval, en die akkumulering van voldoende koue-eenhede het die ’n moontlikheid van sterk seisoen gestel.
’n Normale oes en konsekwente kwaliteit oor alle streke is noodsaaklik vir die stabilisering van produksie en die versterking van die bedryf se volhoubaarheid en langtermyn mededingendheid.
“Ons is vol vertroue dat die 2025-oes van groot gehalte sal wees oor al 10 wynstreke en ’n broodnodige hupstoot aan ons produsente en die breër wynbedryf sal gee,” het Rico Basson, die uitvoerende hoof van Wyn Suid-Afrika, gesê.
“ ’n Suksesvolle oes versterk ons sektor se volhoubaarheid, mededingendheid en veerkragtigheid. Dit stem ooreen met ons strategie om ’n robuuste en mededingende wynbedryf te bou wat plaaslik en internasionaal bly floreer, en Suid-Afrikaanse wyne as leiers op die wêreldverhoog posisioneer.”