Ronnie Farao staan met sy graaf waar hy ’n gedeelte van sy suster se graf oopgespit het. Foto: Yaël Malgas


Ronnie Farao van Jamestown was Woensdag 9 Oktober by die Onder-Papegaaiberg-begraafplaas waar hy ’n begrafnis bygewoon het.

Farao het na afloop van die teraardebestelling besluit om ’n draai by sy twee susters se grafte te maak, maar het beide grafte onder ’n hoop saagsels aangetref.

Volgens Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, is die snoei van bome deel van die gereelde instandhoudingswerk by die begraafplaas. “Die vorige storm het baie takke gebreek en bome laat omval. As gevolg van die grootte van sommige van hierdie reusagtige ou bome moes ons wag op ’n gespesialiseerde kontrakteur om in sekere gebiede te werk. Ons spanne werk hard daaraan om die werk so vinnig as moontlik af te handel terwyl takke en saagsels verwyder word,” sê Grobbelaar.

Farao meen egter die werkers se aksies is grafskending. Nadat hy die grafte effens skoongemaak het, het hy ’n stok in die grond gesteek om seker te maak enigeen kan sien waar die grafte is.

Grobbelaar sê die skoonmaak en instandhoudingswerk is vir besoekers se veiligheid. “Ons doen alles in ons vermoë om te voorkom dat grafte beïnvloed word of dat toegang beperk word,” sê hy.

Farao sê in reaksie hy is glad nie beïndruk met die munisipaliteit se terugvoer nie en “sal beslis die saak verder neem”. Teen Woensdag 23 Oktober was die saagsels steeds op die graftes.

You need to be Logged In to leave a comment.