As alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US) is ek baie teleurgesteld oor die toestand van die grasperke in Van Riebeeck-straat. Die pragtige grasperke, wat altyd so ’n mooi beeld van die universiteit en dameskoshuise uitgedra het, lyk nou soos ’n verwaarloosde park.

Die gras staan plek-plek kniehoogte en die sand wat in Februarie vir “vensters” gebruik is, lê steeds voor Nerina. ’n Groot voetpad is uitgestap – reg deur die pragtige grasperk!

Ek sak my kop in skaamte as alumnus. Die gradeplegtigheid is oor ’n paar weke, dan kom ouers van heinde en ver en studente wil graag met hul universiteit spog.

Hoekom kan Van Riebeeck-straat nie so mooi soos Victoria-straat lyk nie?

Diep teleurgestelde alumnus,

Stellenbosch

Meg Pittaway, Universiteit Stellenbosch se bestuurder van tuine en terreine, reageer: As deel van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid, kan ons nie meer groot, groen grasperke as ontspanningsgebiede aanlê en onderhou nie.Hierdie soort groen ruimtes is nie volhoubaar nie, aangesien fossielbrandstowwe, breëblaaronkruiddoders en baie water nodig is om dit in stand te hou.

Die universiteit streef daarna om grasland-grasperke op kampus te skep, waar die gras toegelaat word om langer te groei en die veldblomme toegelaat word om terug te keer. Dit verhoog die diversiteit van die landskap en behou water in die grond.

Ons buiteontwerpspan het gesprekke met verskeie botaniese tuine en die Departement Bewaringsekologie gevoer in die hoop om van aanstaande jaar af meer endemiese plantspesies in hierdie landskap te begin bekendstel. Tot dan hou ons die grasperke bo enkelhoogte sodat minder water nodig is.

Wat die voetpad betref, is dit die roete wat deur studente gebruik word wat na Boland Kollege stap. Dit is dus nie iets wat die universiteit kan beheer nie, behalwe om ’n heining te span, wat ons nie kan doen nie, aangesien dit oop ruimtes is wat vir almal beskikbaar moet wees om te geniet.

Die sand wat voor Nerina gelaat is, is deel van ’n inligtingstegnologie-projek wat nog nie afgehandel is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.