Jare nadat sy in die moeilikheid beland het omdat sy behoeftiges in haar koshuiskamer laat slaap het, het die aktrise Hanna Grobler se droom om ander te help, nog ’n hupstoot gekry.
Grobler het verlede Donderdag (5 September) Sara Klere in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, geopen, wat sal help om haar Hanna Charity & Empowerment-stigting te finansier.
Die inkomste wat deur dié vintage-winkel geskep sal word, sal onder meer help om die potte van die stigting se Cloetesville- en Smartie Town-sopkombuise aan die kook te hou.
Deesdae help die stigting behoeftige gemeenskappe oor die land heen met sopkombuise, skoolprojekte en bemagtingsprogramme vir vroue.
“Ons is al soveel jaar in die gemeenskap in Cloetesville en Smartie Town en ons het besluit om ’n plan te maak om ’n bestendige inkomste te skep en dit is hoekom ons besluit het om Sara – Zara se Afrikaanse sussie – te open,” verduidelik Grobler.
“Die idee was om hoër gehalte klere te bied, dus vra ons mense met grênd klere om hul gebruikte klere te skenk,”
Enige klere wat die Sara Klere-span ontvang wat nie geskik is om te verkoop nie, word aan die stigting se klerebank geskenk, wat aan behoeftige Stellenbossers uitgedeel word.
Die Cloetesville-klerebank is in Pinestraat en die ander is in Smartie Town. Grobler meen ook mense is gewoonlik moeg van liefdadigheidsgeleenthede en skool-geldinsamelings. Die alternatief van ’n klerewinkel was vir haar ’n blink plan, aangesien sy meen die dorp kon doen met ’n winkel vir gebruikte klere en wat spesifiek deftige vintage-klere verkoop.
“Hierdie is ’n groot droom vir my wat waar geword het, veral omdat my liefdadigheidswerk hier as student begin het,” sê Grobler.
“Die straatkinders het my destyds uit die koshuis kom roep. Nou maak ons ’n stylvolle winkel oop oorkant die koshuise waar dit alles begin het. Dit is alles die Here se genade.”
Alles – van die ruimte vir die winkel en opknappings tot ’n spesiale koek vir die groot opening – is danksy onbaatsugtige skenkings en die hulp van vennote moontlik gemaak.
Charlene Jackson, die uitvoerende direkteur, nooi plaaslike ondernemings, organisasies en individue om met die Hanna Charity & Empowerment-stigting kragte saam te snoer om hul werk in behoeftige gemeenskappe binne, maar ook buite die Stellenbosch-streek, te kan voortsit.