Dit blyk aanhouer wen in die geval van AfriForum in sy stryd om inligting van die Stellenbosch-munisipaliteit te verkry.
’n Jaar nadat AfriForum aanvanklik sy kommer uitgespreek het oor die watergehalte van die Veldwagters- en Eersterivier, is die burgerregte-organisasie nou deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) versoek om ’n gesamentlike inspeksie van die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg te doen (“Riool besoedel riviere, AfriForum dring op antwoorde aan”, Eikestadnuus, 23 November 2023).
AfriForum het Dinsdag in ’n verklaring bevestig hy sal tydens die besoek monsters van behandelde rioolwater neem. AfriForum se verklaring volg net ure nadat die Stellenbosch-munisipaliteit op sy beurt aangedring het die Stellenbosch-afvalwatersuiweringswerke voldoen ten volle aan die Nasionale Waterwet. Die munisipaliteit sê ten spyte van kritici steun hy die bedrywighede van sy suiweringswerke.
AfriForum het verlede jaar aangevoer die munisipaliteit is nie deursigtig oor die watergehalte in die Eikestad nie. Die organisasie het toe private watergehaltetoetse laat doen ná gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die riviere. “Watermonsters is geneem en by ’n plaaslike SANS 241-geakkrediteerde laboratorium laat ontleed. Die toetsuitslae dui op gevaarlike vlakke van rioolbesoedeling in die Plankenbrug-, Veldwagters- en Eersterivier,” het AfriForum verlede November gesê.
Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het benadruk benewens die gevaar wat die watergehalte vir inwoners inhou, is daar ook die streek se ekonomiese aktiwiteite soos die vrugte-, wyn- en toerismebedryf, wat van goeie gehalte water afhanklik is.
Sedertdien het die organisasie die munisipaliteit gevra om oop kaarte te speel. AfriForum het verlede September ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die munisipaliteit ingedien en wou spesifiek meer inligting oor die bestuur van die rioolwerke asook die verslae oor die watergehalte van die twee riviere bekom.
Volgens die munisipaliteit het hy die aansoek verwerk en alle inligting wat “wetlik toelaatbaar is” aan AfriForum oorhandig. Die munisipaliteit bevestig sekere “vertroulike dokumente” is teruggehou. Deel van AfriForum se versoek spruit uit data van die DWS se geïntegreerde regulatoriese inligtingstelsel, wat toon dat die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg nie voldoen aan biologiese en mikrobiologiese standaarde nie.
In Augustus het AfriForum weer gepoog om watermonsters te neem vir sy jaarlikse nasionale Blou-en-groendruppelprojek, waarin 330 punte landwyd getoets word. Die munisipaliteit is in kennis gestel van dié planne, maar het laat weet besoeke aan die suiweringsaanleg kan slegs met toestemming van die munisipale bestuurder gereël word.
Sedertdien het die rolspelers weer vergader en is ’n “hernieude verbintenis tot deursigtigheid en beskerming van die omgewing” deur die munisipaliteit beklemtoon. Uit hierdie gesprek het glo aan die lig gekom dat AfriForum se data en dié van die Stellenbosch-munisipaliteit verskil. Die besluit is geneem dat gesamentlike watertoetsing moet geskied. Benade meen die munisipaliteit se bereidwilligheid om nou saam te werk is ’n eerste en kritieke oorwinning in belang van inwoners.