Altesaam 18 studente van Klapmuts het Maandagaand (18 September) met trots hul Emergency First Aid Responder (Efar) -sertifikate ontvang en is gereed om hul kennis toe te pas en hulp aan hul gemeenskap in tye van nood te verleen.
Die kursus is oor twee dae deur Metro EMS aangebied en die sertifikasie is vir twee jaar geldig.
Axel Mouton, ’n mediese- redding-tegnikus en fasiliteerder van die kursus in die Kaapse Wynland, sê hierdie sertifikasie bied inwoners ’n geleentheid om reddings- en gesondheidswerkers in tye van nood by te staan.
“Die reddingsdienste is oorweldig en dek groot gebiede. Dit vat tyd om by almal en alles uit te kom, maar met hierdie Efars sal hulle ten minste die pasiënte kan stabiliseer totdat reddingswerkers op die toneel kom – dit kan mense se lewe red,” voeg hy by.
Die plaaslike raadslid JC Anthony het die studente gelukgewens en gesê hulle gaan ’n baie groot rol in die gemeenskap vervul.
“Hierdie sertifikaat is ’n stappie nader aan groter dinge vir julle. Beskou dit as ’n trappie na iets beters in die toekoms; wanneer jy gaan werk soek, kan dit vir jou ander deure oopmaak. Neem dit en gebruik dit tot jou voordeel en dié van die gemeenskap,” het Anthony gesê.
Veronica Galant, die plaaslike koördineerder van die program, sê die gemeenskap en die studente sal baat vind by hierdie kwalifikasie.
“Dit gaan baie help om noodhulp in die gemeenskap te verleen, omdat die ambulansdienste so oorweldig is en groot gebiede bedien,” voeg sy by.
“Die Efar-inisiatief is daar om meer onmiddellike reaksie te bied en om pasiënte te stabiliseer terwyl ons wag vir die ambulans om te kom. Die Efar-mense is dus ’n gemeenskap binne die gemeenskap en bied onmiddellike toegang tot basiese mediese hulp.”
Sy sê dit kan vir die studente deure oopmaak, “om eendag” vir hulle ’n loopbaan te maak. “Dit is ’n fondasie, ’n stepping stone en iets wat hulle op hul CV kan sit. Dit kan hulle ook help om verdere opleiding te ondergaan om ’n sertifikaat of diploma in noodreddingswerk te verwerf.”