Terwyl die Stellenbosch- munisipale raad besluit of hy munisipale grond vir dié van die Botmaskop-ontwikkelaar sal verruil, heers kommer oor die biodiversiteit wat as gevolg van die ontwikkeling verlore kan gaan.
Die openbaredeelnameproses vir die moontlike ruil het onlangs verstryk en die kommentaar is op ’n onlangse raadsvergadering bespreek. Heelwat van die deelnemers was teen die ruil gekant.
Een van die teenstanders is die plantkundige dr. Brian du Preez, wat meen die ontwikkeling moes nooit goedgekeur gewees het nie aangesien dit in ’n kritieke, biodiverse gebied geleë is. Hy is ook ’n gereelde stapper in Botmaskop en het tydens sy staptogte op verskeie bedreigde plantspesies in die gebied afgekom.
“Hoër op in die berg is die Botmaskop-natuurreservaat, wat Idasvallei en Jonkershoek verbind, en dit is dus ’n belangrike ekologiese korridor vir plante en diere,” verduidelik hy.
Volgens Du Preez het hy reeds die kwesbare Moraea versicolor, Hesperantha spicata, wat as kritiek bedreig beskou word, en Geissorhiza erosa, wat bedreig is, opgemerk. “Al drie die spesies is bolplante uit die iris-familie, en is net per kans gesien. Ek vermoed daar kan nog bedreigde spesies weer opkom sou die dennebome verwyder word en die omgewing toegelaat word om te herstel,” meen hy.
Waardasieverslag
Die ontwikkelaars agter die Botmaskop-landgoed beoog om behuising te bou, maar wil nou ’n gedeelte van erf 3363 en die res van plaas 333 Stellenbosch ruil vir ’n gedeelte van hul eiendom.
Saam beslaan die munisipale grond 4,69 ha – presies dieselfde grootte as wat die ontwikkelaars se grond is wat hulle wil ruil. Die ontwikkelaars voer aan die grondruil sal die langtermyntoegang en vrye vloei tussen ’n gedeelte van die gebied beteken.
Volgens ’n waardasieverslag wat deel vorm van die raadsitem, word beide die ontwikkelaar én die munisipaliteit se grond op R1 950 000 gewaardeer.
Casabio, ’n nie-regeringsorganisasie wat toegewy is aan die bewaring van die wêreld se biodiversiteit, het ook sy amptelike beswaar oor die grondruil aan die Stellenbosch-munisipaliteit gerig. Die organisasie meen nie genoeg oorweging is aan die omgewingsimpak gegee nie.
Du Preez verduidelik ’n gedeelte van Botmaskop behels twee kritiek bedreigde veldsoorte: die Boland Graniet-fynbos en Kaapse Wynlande Skalie-fynbos. “Die gebied word baie deur die gemeenskap gebruik vir buitemuurse aktiwiteite soos honde stap, fietsry, draf, ensovoorts.
“Ek stel voor aan die munisipaliteit dat hulle die plantasies op Botmaskop sluit, die bome verwyder en begin met ’n ekologiese herstelprogram. So ’n projek kan oor jare strek, baie werksgeleenthede skep en help om kritiek bedreigde veldsoorte te herstel en te bewaar.
Natuurbewaring
“Ons dorp brei vinnig uit en daarmee saam kom al hoe meer ekologiese vernietiging en verwaarlosing, en ons moet groter klem plaas op die bewaring van natuurlike gebiede en van die ekostelsel-dienste wat hulle verskaf,” meen Du Preez.
Ten spyte van die teenkanting vir die grondruil het Stellenbosch Trail Fund (STF), ’n gemeenskapsorganisasie wat stap-, fiets- en hardlooproetes in en om Stellenbosch in stand hou, sy steun vir die grondruil ingedien. Verskeie individue het ook hul steun vir die grondruil aan die munisipaliteit gestuur, vermoedelik danksy e-pos van die STF aan hul lede.
Dié kommentaar was egter ná die sluitingsdatum van die openbare- deelname-proses gestuur, maar is wel beskikbaar in die raadsitems wat aan die munisipale raad voorgelê is.
“Ons weet nie wat die munisipaliteit se planne vir die plantasiegebied is nie – dalk is dit [om] huise te bou; dalk is dit net aanhou met die plantasies. Indien dit die geval is, sal ons moontlik die populasies verloor. Dis dalk nie die einde van die wêreld nie, maar elke populasie wat verloor word, is een stap nader aan die uitwissing van ’n spesie, en as ons net aangaan asof dit niks is nie, gaan ons baie kosbare biodiversiteit oor die volgende paar dekades verloor,” verduidelik Du Preez.