Groot mylpale in styl gevier

’n Groot verjaardagmakietie is eergister (Dinsdag 22 Augustus) vir twee bejaardes van die Huis Ebenhaeser-tehuis in Cloetesville gehou, want dié twee merkwaardige vroue het onlangs onderskeidelik hul 89ste en 92ste verjaardae gevier.


’n Groot verjaardagmakietie is eergister (Dinsdag 22 Augustus) vir twee bejaardes van die Huis Ebenhaeser-tehuis in Cloetesville gehou, want dié twee merkwaardige vroue het onlangs onderskeidelik hul 89ste en 92ste verjaardae gevier.

Voor in Huis Ebenhaeser se eetkamersaal sit Judith Swart en Annie Petersen en albei die dames dra krone. Dis hul spesiale dag en dié twee se verjaardae word in styl gevier.

Maar, wat is enige verjaardag­partytjie sonder gaste, en dis hier waar die Cloetesville-polisie, Trinity Metodiste Mansliga, Stellcare- maatskaplike dienste, dominee Danny Bock van VGK Idasvallei en al die bejaardes (en werkers) van Huis Ebenhaeser inkom.

Eerste aan die woord is ds. Bock. ’n Mens kan mos nie só ’n dag begin sonder skriflesing en gebed nie en hy begin met Jesaja 46 vers 4, wat lui: “En tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.”

Bock brei uit en sê was dit nie vir God se genade nie, dan sou dié twee nie eergister sulke groot verjaardae kon vier nie.

Lt.kol. Latetia Hans, stasiebevelvoerder van die Cloetesville-polisie, sê as polisie-beampte, wie se werk dit is om die einste gemeenskap te beskerm, is dit ’n eer om by die verjaardagpartytjie te wees.

“Die is ’n viering van twee wonderlike vroue. Ons is in Vrouemaand en dit maak die partytjie soveel meer besonders. Saam met Huis Ebenhaeser en Stellcare vat ons hande, want as dit kom by ons oumense, dan is ons nog meer bekommerd oor hul welstand,” sê Hans.

LeAnne Kumalo van Stellcare het die vroue vir die merk wat hulle op die gemeenskap en op baie mense se lewens gemaak het, bedank.

Petersen, wat reeds op Saterdag 12 Augustus haar 92ste verjaarsdag gevier het, se boodskap aan ander mense is om vas te hou aan die Here.

“As ek een wens kon kry, is dit om altyd gelukkig te bly,” voeg sy by.

Judith Swart, wat op dieselfde dag as die partytjie haar 89ste verjaardag gevier het, vertel ’n mens kan net weet hoe dit voel om so oud te raak as ’n mens eers daar kom.

“Leef in liefde, dan kan ’n mens ook so oud word,” sê Swart, terwyl sy met ’n kombers op haar skoot sit. Dit het aan haar man, wat sewe jaar gelede oorlede is, behoort het.

Manne met goue stemme van Trinity Metodiste Mansliga het die verjaarsdagvroue met twee liedjies bederf voordat hulle hul dag saam die mede-inwoners van Huis Ebenhaeser geniet het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.