Die Van der Stel-sportkompleks sal oor die volgende paar jaar ‘n nuwe baadjie kry nadat Stellenbosch FC die groenlig gekry het om die multigebruik-fasiliteit te ontwikkel. Foto: Yaël Malgas

Die belegging van die Stellenbosch- sokkerklub (FC) in die Van der Stel- veeldoelige sportterrein is ‘n triomf vir gemeenskapgesentreerde ontwikkeling.

Só sê dié plaaslike premierliga sokkerklub, wat nou aan die stuur van die Stellenbosse sportkompleks op erf 235 sal wees.

“Stellenbosch FC is verheug oor die Stellenbosch-munisipaliteit se besluit om die klub se aanbod te aanvaar om die Van der Stel-sportkompleks te bestuur en tot ‘n vooraanstaande sportkompleks te ontwikkel,” het Stellenbosch FC verlede Vrydag (4 April) in ‘n verklaring gesê.

Die drie dekade lange ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die sokkerklub behels die opgradering van die veeldoelige sentrum, met planne vir ‘n nuwe 5 000-sitplek-stadion, vier professionele sokkervelde en ses kleiner multigebruik-velde en -bane.

Onder die munisipaliteit se voorskrifte vir die ooreenkoms is dat die klub R395 miljoen binne die eerste vyf jaar van die kontrak in die fasiliteit sal moet belê.

“Ons is dankbaar teenoor die munisipaliteit en die gemeenskap van Stellenbosch vir die geleentheid om dié landmerkkompleks oor die volgende 30 jaar te bestuur en te ontwikkel,” sê Rob Benadie, Stellenbosch FC se hoof.

Tans noem meer as 20 sportkodes die Van der Stel-fasiliteit hul tuiste. Onder die gebruikers van die geriewe is ‘n karate-klub, ‘n organisasie wat honde-opleiding doen en selfs kerke.

Dié gebruikers, saam met die Van der Stel-sportforum, het hul teenkanting teen die projek in die openbare deelnameproses uitgespreek.

KLUBS ONSEKER OOR TOEKOMS

Frankford Williams, die president van Van der Stel-krieket vir blindes, sê die onsekerheid oor of hulle die terrein sal kan gebruik, is hul grootste kommer.

“Ons weet nie wat ons gaan maak nie,” bieg Williams. “Ons het groot onsekerheid en ons weet nie of Stellenbosch FC ons gaan huisves nie.

Destyds het ons by die Spes Bona-terrein in Cloetesville gespeel, maar vanweë die uitdagings met veiligheid het ons na die VDS-terrein geskuif. Dit is sentraal geleë en naby die treinstasie sowel as die taxistaanplek,” sê hy.

Williams sê die klub doen juis moeite om jonger spelers te werf.

Teenstanders van die ontwikkeling meen ook die goedkeuringsproses was nie deursigtig genoeg nie.

Elzabi van Wyk van Vineyard Dog Agility, ‘n honde-opleidingsklub, sê sy verstaan die ontwikkeling sal ‘n aanwins wees, maar die onsekerheid en gebrek aan toekomstige heenkome is frustrerend.

“Elke nuusberig bring nog inligting, maar niks is direk met ons bespreek nie. Ons weet nie wat Stellenbosch FC se planne behels nie,” sê sy.

Van Wyk sê die VDS-sportterrein is ideaal vir die klub omdat dit omhein is en dus veilig is vir die diere en hul eienaars en omdat dit nie aan enige huise grens nie. “Die honde blaf natuurlik en dit pla mense, dus is die VDS-terrein perfek geskik vir ons.”

Luidens Stellenbosch FC se verklaring is die plan om saam met ACE Trust en die Open Play-stigting te werk om ‘n “veld van drome” te skep. Die klub glo sy aanvanklike 30-jaar- ooreenkoms is die geleentheid vir die premierliga-span om sy toekoms in die dorp te verseker. Sokker is die enigste professionele sportkode in Stellenbosch, en die VDS-sportkompleks is dus “die ideale tuiste” vir Stellenbosch FC se mans-, vroue-, en juniorspanne, sê die klub.

“As verantwoordelike en vertroude burgers belê ons aandeelhouers, vennote en die klub in die Van der Stel-kompleks met ‘n langtermynvisie vir ‘n blinker toekoms in Stellenbosch,” sê Benade.

“Ons glo sport is die bemagtigende katalisator vir vooruitgang, inklusiewe ekonomiese groei en geleenthede, wat blywende waarde in ‘n openbare bate vir komende geslagte sal skep.”

SPORT-HOËRSKOOL BEPLAN

Die klub beplan ook om ‘n sport-hoërskool vir 200 leerders op die terrein te bou. ‘n Koshuis met 150 beddens en ‘n gras-atletiekbaan van 300 m is ook op pad.

Die ACE Trust sal beurse vir waardige leerders verseker, terwyl die skool ook toeganklik sal wees vir ander talentvolle jeugdiges, op ‘n kommersiële basis, verduidelik die klub.

‘n Parkeergebou met 600 tot 800 parkeerplekke is ook deel van die ontwikkeling.

Intussen kyk die Van der Stel-sport-raad na opsies “rakende die verdere hantering van die situasie en die prosedures wat gevolg behoort te word”.

“Ons verseker die gemeenskap dat ‘n verantwoordelike en deurdagte benadering gevolg sal word en dat ons, sodra alle verwante faktore behoorlik oorweeg is, op die mees gepaste en doeltreffende wyse sal reageer om die belange van alle betrokke sportkodes te beskerm en te bevorder,” sê Pieter Lotz, die voorsitter van die sportforum.

Volgens die webtuiste van Stellenbosch FC gebruik die span tans die Danie Craven-stadion en die Lentelus-sportterrein as oefengronde, terwyl die gimnasium van die Stellenbosch-akademie van sport (SAS) ook as deel van hul oefen-fasiliteite is.

Die Danie Craven-stadion dien grootliks as fasilieit vir die span se tuiswedstryde.

Eikestadnuus het na die Universteit Stellenbosch (US) uitgereik oor die finansiele implikasies van Stellenbosch FC se skuif. “Die universiteit sal dit oorweeg om kommentaar te lewer sodra hy die geleentheid gehad het om die beoogde skuif met die SAS en Stellenbosch FC te bespreek,” het Martin Viljoen, ‘n US-woordvoerder, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.