Groot prys vir prof. Gouws

Die Jan H. Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal is vanjaar aan die leksikograaf prof. Rufus Gouws van Stellenbosch toegeken.


Die Jan H. Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal is vanjaar aan die leksikograaf prof. Rufus Gouws van Stellenbosch toegeken.

Die prysgeld van R750 000 is Vrydag 3 Junie op ’n geleentheid aan hom oorhandig as erkenning vir sy bydrae ten bate van akademiese Afrikaans.

Hierdie besluit is bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, dr, Johan van Zyl, oud-rektor van die Universiteit van Pretoria en ook oud-bestuurshoof en -voorsitter van Sanlam.

Prof. Gouws, een van Suid-Afrika se toonaangewende leksikograwe, is in 1953 gebore. Hy studeer aan die Universiteit Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA (1974), BA Hons (Cum Laude, 1975), MA (Cum Laude, 1977) en DLitt (1982) in Afrikaans en Nederlands.

Sy akademiese loopbaan begin in 1977 by die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). In Januarie 1980 verskuif hy na die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1999 tot professor bevorder word. Sy produktiewe doseer- en navorsingsloopbaan in die Afrikaanse taalkunde, en meer spesifiek die leksikografie aan nagraadse studente, strek dus oor 45 jaar.

Prof. Gouws slaag daarin om leksikografie suksesvol as ’n kernnavorsingskomponent in die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch te vestig. Oor die jare het hy 36 studente op magistervlak en 24 studente op doktorale vlak tot die voltooiing van hulle kwalifikasies begelei. Sy eie navorsing is feitlik uitsluitlik op die metaleksikografie gerig. Sy publikasielys is omvangryk en staan tans op 123 artikels in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte; 76 hoofstukke in boeke en 20 boeke as alleen-outeur of as mede-outeur.

Hy het ook reeds meer as 100 referate, beide internasionaal en plaaslik, gelewer.

Vir sy navorsingswerk is prof. Gouws deur die Nasionale Navorsingstigting as ’n B2-navorser gegradeer, dus as ’n navorser wat aansienlike internasionale erkenning deur hul eweknieë geniet vir die hoë gehalte en impak van hul navorsingsuitsette. Dit bevestig sy status as toonaangewende navorser in leksikografie in Suid-Afrika.

Die jaarlikse Jan H. Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch.

Al drie instellings het hul ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het.

Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Die prys vir ’n uitnemende bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

V Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Albert Grundlingh (Stellenbosch), Debra Meyer (Johannesburg), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg), Ian Dubery (Johannesburg) en dr. Johan van Zyl (vroeër van Pretoria en ook Sanlam).

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.