Groot vermaak op die planke by 2024- Toyota Stellenbosch Woordfees

Die 2024- Toyota Stellenbosch Woordfees bot, blom en bruis dié lente uit met meer as 400 unieke produksies wat in nagenoeg 60 venues in en om Stellenbosch aangebied word.


Die 2024- Toyota Stellenbosch Woordfees bot, blom en bruis dié lente uit met meer as 400 unieke produksies wat in nagenoeg 60 venues in en om Stellenbosch aangebied word.

Die fees vind vanjaar van Saterdag 28 September tot Sondag 6 Oktober in die Eikestad plaas. Die 2024-program bied feesgangers die geleentheid om met oorgawe uiting te gee aan ’n eie spontaneïteit, wat gestalte gee aan vanjaar se feestema – Speel.

Speel ontsluit nuwe moontlikhede; dit ontdek wêrelde en plaas jou op ’n ongebreidelde plek waar jy net in die oomblik kan wees,” sê die feesdirekteur, Saartjie Botha.

“Om te kan speel, moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel is kroek. Speel vra algehele oorgawe, verbeelding en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word; waar ander reëls geld en waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.”

Die 2024-fees open weer amptelik aan die gesellige Langtafel onder die bottende eike, tussen die pragtige ou geboue van Ryneveldstraat. Die kinkelkok Johnny Hamman dis feestelike kos op, wat alles oor ’n braaivuur voorberei word. Kaartjies na Sondag 29 September se Langtafel kos R1 200, met ’n afslagprys van R1 000 as jy jou plek voor Donderdag 1 Augustus bespreek en betaal.

Dit sluit ’n driegangete in en gaste word begroet met ’n glas wyn of borrels met die komplimente van Alto-wynlandgoed, Blaauwklippen, Dorp St Wine en Spier.

Die program bestaan uit 12 afdelings – die EasyEquities-skrywersfees; dans; diskoers; rolprentfees; kinderfees; klassieke musiek; komedie; leefstyl; toneel; die Toyota-musiekfees; visuele kuns; en die WOW-fees.

Die Toyota Stellenbosch Woordfees het 24 jaar gelede as ’n boekfees begin en die EasyEquities-skrywersfees is steeds ’n hartkamer van die program met 63 aanbiedings – van boekpraatjies en voorlesings deur van die land se voorste woordpaljasse tot woordspeletjies en open-mic-sessies.

Die toneelaanbod is vanjaar weer stewig met 36 aanbiedings, waarvan 13 produksies op die fees debuteer. Onder die nuwe produksies tel die bekroonde regisseur Christiaan Olwagen se verwerking van die Noorse dramaturg Henrik Ibsen se drama HeddaGabler.

Feesgangers kan ook uitsien na die drama Gas met Elton Landrew en Jill Levenberg. Geralt Cloete is die skrywer van die toneelstuk, met regie deur Dean Balie.

Die dans-program sluit ook drie uitgesoekte aanbiedings in, terwyl van die land se grootste grapmakers, soos Marc Lottering, Alfred Adriaan en Nik Rabinowitz vars vertonings na die fees bring.

Die Kinderfees bestaan uit sewe aanbiedings wat groot, leersame vermaak en plesier vir die kleinspan en hul ouers belowe.

Ook die Toyota-musiekfees het aansienlik uitgebrei met 57 aanbiedings op aanbod – van stadiongrootte tot klein en intiem, kry jy alles van opelugkonserte by die Jan Marais-natuurreservaat tot a capella, musiekteater en -komedie, ’n heildronk op Afrikaanse musiek, kabaret, en uitgelate optredes met jazz, rock, hip-hop en pop.

Die uitgebreide klassieke-musiek-program pronk met 29 aanbiedings om van te kies, wat ’n ryke verskeidenheid bied ten opsigte van styl, benadering en uitgevoerde werke.

Die “kanvas” pryk kleurvol op die visuele-kuns-program met 45 aanbiedings – van uitstallings en rondleidings tot ateljeebesoeke by kunstenaars soos Ingrid Winterbach en Paula van Coller, ’n Picasso in die vertoonkas en vele meer.

Die leefstyl-program behels 30 ander aanbiedings waarmee jy jou lewenslus kan verfris – stap, draf, tuin- en kunskyk, kookdemonstrasies, argitektuurtoere en alles wat die wynlande te eet en drink kan bied.

Die volledige program is nou op die webblad woordfees.co.za beskikbaar, waar ’n PDF van die feesgids in Afrikaans en Engels afgelaai kan word. Die gratis gedrukte feesgids is sedert Julie by die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis, te Ryneveldstraat 37, Stellenbosch, te kry, en ook by verskeie biblioteke, boekwinkels, toeristeburo’s en gastehuise in die Wes-Kaap.

Kaartjies is nou by quicket.co.za te koop.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.