Die skrywer Casparus Johannes Bakkes, oftewel C. Johan Bakkes, ‘n legende in die Paarl, is die afgelope Dinsdagaand (24 Junie) ná ‘n kankerstryd oorlede.
Bakkes het vir minstens 20 jaar in die Paarl gewoon en was onder dorpenaars bekend.
Alhoewel hy landwyd as skrywer vir sy roerende reis- en menseverhale bekend was, sal die geliefde Johan onthou word as ‘n ware mense-mens wat lief was vir samesyn, die braaivleisvuur, stories vertel asook sy langpad-avonture.

Volgens Dana Snyman, ‘n skrywer van Kaapsehoop in Mpumalanga en een van Bakkes se goeie vriende, het hy kort voordat Bakkes na ‘n versorgingsoord in die Paarl oorgeplaas is, met hom gepraat.
Snyman het verduidelik dat Bakkes al vir ‘n geruime tyd met sy gesondheid gesukkel het.
Dié twee skrywersvriende het mekaar sowat 10 jaar gelede by die Woordfees in Stellenbosch ontmoet, waarna hulle vele avonture saam geniet het.
“Hy [Bakkes] was groter as lewensgroot.”
Dana Snyman
“Hy [Bakkes] was groter as lewensgroot,” het Snyman nostalgies gesê.
Volgens hom het Bakkes van Pretoria na die Paarl verhuis toe hy ‘n pos by die Universiteit van die Wes-Kaap as rekeningkundedosent aanvaar het.
Bakkes het steeds deeltyds geskryf en was bekend vir sy reisverhale, met sy eerste boek Moer toe die vreemde in, wat in 2001 deur Human & Rousseau uitgegee is.
Ander boeke wat hy die lig laat sien het, sluit in Norrevøk, Nou’s ons in ons donner in, Oepse Daisy, Samoe(r)sareis, en Erfgeld is swerfgeld.
Volgens Snyman het Bakkes sy boeke met die hand geskryf, waarna iemand dit vir hom getik het.
“Johan was wat jy nou ‘n volle mens sou kon noem – ruimhartig, geestig en met ‘n vlymskerp humorsin. Hy het ‘n liefde vir mense en vir die wereld uitgestraal en had ‘n rustelose hongerte om meer van die wêreld te sien en meer van die aarde se mense te ervaar,” het Emile Joubert, ook ‘n skrywersvriend van Bakkes, aan die Paarl Post vertel.
“Ons het van tyd tot tyd heelwat saam gekuier en stront gepraat. Maar as ek sê ‘stront’, bedoel ek kwaliteit-stront – nie hierdie sinnelose stront wat so baie ander mense probeer praat nie. Oor witwyn in Riebeek-Kasteel; oor Captain Morgan in die Klapmuts-hotel; ‘n bier in die Diaz Taverne,” vertel Jaco Kirsten, nóg ‘n vriend van Bakkes asook ‘n oud-joernalis en skrywer.
“En so lief as wat Johan vir gesels was, so ‘n goeie luisteraar was hy. Aan huis by ons wou hy elkeen se familie- stamboom uitpluis. Dan neem hy foto’s en maak aantekeninge. Johan was een van die mees komplekse mense wat ek ooit die voorreg gehad het om te leer ken – hiper-intelligent, avonturier, kuiergat, skrywer, geoktrooieerde rekenmeester, professor en algemene bon vivant.”
Jaco Kirsten
“En so lief as wat Johan vir gesels was, so ‘n goeie luisteraar was hy. Aan huis by ons wou hy elkeen se familie- stamboom uitpluis. Dan neem hy foto’s en maak aantekeninge. Johan was een van die mees komplekse mense wat ek ooit die voorreg gehad het om te leer ken – hiper-intelligent, avonturier, kuiergat, skrywer, geoktrooieerde rekenmeester, professor en algemene bon vivant,” vertel Kirsten.
Netwerk24 het berig dat Bakkes in Stellenbosch gebore is, waarna sy ouers, Cas en Margaret Bakkes (ook ‘n skrywer) na Saldanha verhuis het en hy by die Laerskool Saldanha skoolgegaan het.
Bakkes is ook familie van die aktrise Lizz Meiring en die oorlede skrywer Hennie Aucamp.
In 1974 het Bakkes aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer. Ná skool het die jong Bakkes rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.
Bakkes word oorleef deur sy vrou, Nonna, asook sy twee kinders en twee kleinkinders.
You must be logged in to post a comment.