’n Ongeluk wat Maandagaand op die R304 tussen die N1 en Stellenbosch plaasgevind het, het nie net ’n voormalige Springbokrugbyspeler van Koelenhof nie, maar ook ’n sakevrou van Morreesburg se lewens geëis.
Die oud-Springbok Theuns Stofberg (68) is Maandag (21 Augutus) met ernstige beserings na ’n hospitaal gehaas, waar hy gisteroggend (Woensdag 23 Augustus) oorlede is.
Carine Strydom, die mede-eienaar van Spar in die Lions Square-winkelsentrum in Somerset-Wes, is in die trompop-botsing oorlede. Die 65-jarige was glo onderweg Moorreesburg toe saam haar man, Theo, toe die ongeluk plaasgevind het.
Stofberg se familie het in ’n persverklaring bevestig dat hy Maandagaand op pad terug na sy huis by Koelenhof was toe die ongeluk plaasgevind het.
“Hy was op pad na sy huis nadat hy by sy jongste dogter, Anzél, skoonseun en kleindogter gekuier het. Net voor 19:00 was hy in ’n trompop-botsing ’n paar kilometer van sy huis af op die R304-pad betrokke. Theuns was alleen in die motor,” lui die verklaring.
Kapt. Nathalie Martin,’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het bevestig dat die twee voertuie waarin die Strydoms en Stofberg gery het in ’n botsing betrokke was. Strydom is op die toneel dood verklaar terwyl haar man na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem is.
Stofberg se familie het gesê dat nooddienste hom uit die voertuig kon sny. Hy is in ’n kritieke toestand na ’n private hospitaal vervoer waar hy in ’n waakeenheid behandel is.
“Sy vele beserings was egter te erg vir sy liggaam om te herstel, en hy is Woensdagoggend vroeg oorlede.”
Janine Fourie, Strydom se dogter, vertel haar ma was ’n mense-mens wat altyd vir haar medemens omgegee het.
“My ma is op ’n baie tragiese manier oorlede. Dit is merkwaardig hoeveel testimonials mense op Facebook oor my ma gelos het. Sy was voor ons al die Spar-winkels geopen het ’n onderwyseres. Sy het so ’n groot verskil in baie lewens gemaak,” sê Fourie.
Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, meen om te sê Theuns Stofberg het ’n groot impak op Suid-Afrikaanse rugby tydens ’n moeilike tyd in ons rugby-geskiedenis gehad, is om dit sag te stel. “Stofberg het sy debuut gemaak in ’n toets teen die All Blacks in 1976, ’n jaar nadat hy vir die SA o.21-span gespeel het,” sê Alexander.
In sy loopbaan, het Stofberg uitgedraf vir die Springbokke in vier van hul 21 toetse tussen 1976 en 1984. Hy en Duane Vermeulen is twee Springbokke wat die Curriebeker by drie verskillende spanne gewen het – Stofberg by die Cheetahs in 1976, die Bulle in 1979 en 1980, asook vir WP in 1982 en 1983.
“Theuns het ’n groot liefde vir rugby gehad. Hy het die etos van kameraadskap uitgeleef en deur die jare kontak met sy ou spanmaats behou,” sê Alexander.
Stofberg word oorleef deur sy vrou, Martie, sy vier kinders, asook sewe kleinkinders.
Strydom word oorleef deur haar man, Theo, haar dogter (Janine) asook haar seun en vier kleinkinders.
. ’n Gedenkdiens vir Strydom word Maandag (28 Augustus) by Die Stoor op die plaas Ebenhaezer in Moorreesburg gehou. Dit begin om 11:00. Belangstellendes kan RSVP voor komende Vrydag 10:00 deur 071 680 4177 te skakel.
. Stofberg se familie het bevestig dat daar in dié stadium nog nie begrafnisreëlings getref is nie.