Die Stellenbosch-polisie het sy kommer uitgespreek oor die toename in selfoondiefstal in die gebied, veral in kroeë in die Stellenbosch Sentrale Sakekern (SSK).
Volgens die polisie word die diefstalle deur verskillende groepe misdadigers uitgevoer, elk met sy eie modus operandi.
Die eerste groep bestaan ??uit twee netjies geklede mans wat te voet te werk gaan. Hulle is grypdiewe en beroof gewoonlik niksvermoedende slagoffers of ruk selfone van restauranttafels af.
“Die verdagtes het ook gewoonlik ’n voertuig op bystand om hul wegkom te vergemaklik. Hulle is al met ’n swart Volkswagen, ’n wit voertuig van onbekende handelsnaam en ’n silwer voertuig, ook van onbekende handelsnaam, opgemerk. Hulle doen hulleself ook dikwels voor as Uber-bestuurders, wat die studente ontbied, en dan hul selfone gryp,” sê kapt. Nathalie Martin, polisiewoordvoerder.
’n Tweede groep funksioneer met twee onbekende mans en een vrou. Martin sê hulle is onopsigtelik geklee en loop saans op straat rond op soek na geleenthede om selfone te gryp of te steel.
Die derde groep is straatboewe wat niksvermoedende mense teiken en goed uit hul hande gryp, veral diegene wat hul fone sonder toesig los.
Martin sê baie van die gesteelde fone word gevolg na dieselfde gebied waar hulle gesteel is, wat wys dat die oortreders plaaslik is.
Die polisie doen ’n beroep op lede van die publiek om waaksaam te wees en om nie hul selfone sonder toesig te los terwyl hulle kroeë en restaurante besoek nie en waarsku studente om voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle snags kroeë besoek.
“Ons doen ’n beroep op inwoners om hul selfone in hul handsakke of sakke te hou wanneer dit nie gebruik word nie en om versigtig te wees vir vreemdelinge wat hulle nader. Inwoners word aangeraai om nie vreemdelinge te vertrou nie, selfs al beweer hulle dat hulle Uber-bestuurders is, en om weg te stap as hulle ongemaklik voel.”
Die polisie waarsku ook diegene wat hul selfone weens nalatigheid verloor dat hulle aanspreeklik gehou sal word indien hulle onder eed lieg wanneer ’n saak van diefstal van ’n selfoon geopen word. Sulke individue sal volgens die polisie van meineed aangekla word.
Die publiek word aangemoedig om verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld en saam met die owerhede te werk om misdaad te bekamp.