Haarkappers toe ‘dokters’

“As hulle my vier minute later gekry het, was ek dood.”.


“As hulle my vier minute later gekry het, was ek dood.”

So sê Christo Berner (69), ’n hawelose man van Stellenbosch, wie se lewe deur barmhartige haarkappers gered is toe hy Maandag 14 Februarie kort ná 08:00 ’n hartaanval gehad het.

Christo, oorspronklik van Gqeberha (Port Elizabeth), sê hy het sowat twee maande gelede in Stellenbosch aangekom. “Toe ek hier kom, het ek niemand geken nie en die vroue van Bosch Hair Studio het my tuis laat voel. Hulle nooi my elke oggend in vir koffie en beskuit en vra altyd hoe dit met my gaan. Só het ons vriendskap begin,” min wetend dat hierdie vriendskap eendag sy lewe sou red.

Olivia van Kerwel, ’n haarkapper by Bosch Hair Studio, sê Christo het die oggend soos gewoonlik verbygekom en kom groet. “Vyftien minute later het my kollega my geroep en gesê oom Christo sê ek moet die ambulans bel. Terwyl ek op die foon was met die brandweer, het ek gesien hoe hy stadig na sy regterkant toe val. Die mense het net verbygestap en na hom gestaar. Toe ek die foon neersit, het ek en my kollega hom vinnig gaan haal en ingebring. Ons het hom ’n glas water gegee. Hy het drie slukkies gevat en sy kop agteroor gehou. Hy het vinnig asem gehaal en gekla van erge borspyn. Ons het nie geweet wat om te doen nie.”

Olivia vertel verder: “Die brandweer het 15 minute later aangekom en hom suurstof gegee. Ek het nog gevra of hy oukei gaan wees, maar die brandweerman het gesê hy weet nie. Ons was baie bekommerd. Vier brandweermanne, twee ER-manne en twee ambulansmanne was vir sowat 45 tot 50 minute met hom besig.”

Christo sê hy weet nie wat van hom sou word as die vroue nie so vinnig opgetree het nie.

“Ek ken hulle maar net vir ’n kort rukkie, maar hulle het alles gelos om my lewe te red. Hulle beskou my as ’n mens – vir wie ek is – en niks anders nie.

“Daar is nog baie goeie mense in die wêreld – mense wat omgee. ’n Mens hoor altyd net die negatiewe dinge in ons gemeenskappe, maar daar is werklik goeie Samaritane.

“Ek is selfs by die hospitaal ook baie vinnig gehelp en die diens was baie goed. Almal was gaaf en ondersteunend. Daar was ook ’n regstudent by Maties, Saaniya Yacoob, wat my in die hospitaal besoek en klere gebring het en selfs gehelp het om my huis toe te bring by die skuiling.”

Christo sê hy is dankbaar vir al hierdie goeie mense wat hom in sy tyd van nood gehelp het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.