’n Tienjarige meisie van Cloetesville is eersdaags op pad na China om aan ’n Chinese Bridge-kompetisie deel te neem nadat sy die Suid-Afrikaanse ronde van die kompetisie gewen het.
Die Chinese vaardigheidskompetisie vir buitelandse kollege- en hoër- en laerskoolleerders,is deur die Chinese ambassade in samewerking met die Confucius-stigting in Suid-Afrika aangebied.
Caryn Cornelius, ’n gr. 4-leerder aan Rietenbosch Primêr, verbonde aan die Confucius-stigting by die Universiteit Stellenbosch, het haar Chinese taal- en kultuurvaardighede op 16 Junie ten toon gestel en die eerste plek in die afdeling vir laerskoolleerders verower.
Haar oorwinning het haar die geleentheid gebied om in Augustus vanjaar aan die derde internasionale Chinese Bridge-kompetisie in China te gaan deelneem.
Caryn sê sy is baie opgewonde en trots op haar prestasie. “Dit is ’n baie groot geleentheid vir my om China toe te kan gaan.”
Haar ma, Undria, sê Caryn was net nege jaar oud toe sy by die stigting aangesluit het. “Die dag toe haar juffrou aan die klas noem dat hulle ekstra Chinese klasse kan bywoon, het sy onmiddellik haar naam ingegee, want sy weet om ’n ander land se taal te leer, is ’n groot voorreg,” sê Undria.
Die Confucius-stigting is ’n organisasie sonder winsbejag wat daarop gemik is om die Chinese taal en kultuur sowel as vriendskap tussen China en Suid-Afrika aan te moedig.