Hamediehs te uitgeslape vir VDE

Van der Stel-Evergreens (VDE) het Saterdag (20 Augustus) sy rieme in Rylands-landgoed vasgeloop toe hy sy onoorwonne status aan Hamediehs in die promosieliga moes afstaan.


Van der Stel-Evergreens (VDE) het Saterdag (20 Augustus) sy rieme in Rylands-landgoed vasgeloop toe hy sy onoorwonne status aan Hamediehs in die promosieliga moes afstaan.

Dit beteken Hamediehs is ná drie wedstryde onoorwonne en met een wedstryd wat hy minder gespeel het, is sy hand al op die top-9-beker.

VDE volg nou in Blakes se spore, wat ook twee weke gelede teen Violets in Lansdowne vasgeval het, deur 11-5 te verloor.

Met VDE se verloor en Violets wat nou met sy opmars begin nadat die Landsdowners teen VDE vasgeval het, is dit nie meer ’n uitgemaakte saak wie in die tweede, derde en vierde posisie op die punteleer op 1 Oktober gaan lê nie. Die aanspraakmakers op die posisies is nou VDE, Blakes en Violets, met VDE se punteverskil wat hom ’n kort kop voor die ander twee hou.

Hamediehs het sy tuiswerk goed gedoen vir die stryd teen VDE en het die wedstryd tussen laasgenoemde en Violets in Stellenbosch kom dophou om sy strategie uit te werk.

Hassiem Samsodien, afrigter van Hamediehs, het ná Saterdag se wedstryd gesê hulle het al VDE se wedstryde vir die jaar ontleed en gesien die spelskepper is die heelagter Ashwin Dube.

Hy is Saterdag fyn dopgehou en kon nie sy gebruiklike aanvallende spel vanaf die laaste vesting oplewer nie, want hy is geen beweegruimte gegee nie.

Boonop sê Samsodien hy het geweet in die vaste fasette van die spel, lynstane en skrums, is hulle net so sterk soos VDE, maar dit sou afhang van wie die wedstryd die graagste wou wen om onoorwonne te bly.

Die losskakel Leroy Ruiters het VDE se rekening met ’n strafskop geopen, maar VDE moes kort daarna toekyk hoe Hamediehs die wind uit hul seile neem om agter die pale te gaan druk vir ’n verdoelde drie.

Ruiters het toe weer ’n strafskop oorgeklits om die rustydtelling 7-6 in Hamediehs se guns te maak.

Alastair Siegelaar, afrigter van VDE, het rustyd kwaai met sy span gepraat en gesê hulle moet eerste punte in die tweede helfte aanteken en momentum opbou.

Ná rustyd het swak verdediging van VDE en aanvallende spel deur Hamediehs die telbord verder laat rol toe twee vinnige drieë gedruk is. Een is verdoel om die telling 17-6 te maak.

’n Skepskop halfpad deur die tweede helfte het nog verder sout in VDE se wonde gesmeer om die telling 20-6 te maak.

Dube het weer met sy gebruiklike spel vorendag gekom en self kontak gevat voordat die senter Marshallino Brits vir VDE gaan druk het. Ruiters kon nie verdoel nie (20-11).

Dube het weer met sy aftrappe vir Hamediehs geflous en Lorenzo Claassen is in die hoek oor vir sy drie, wat deur Ruiters verdoel is, om die telling 20-18 te maak.

Twee minute voor die eindfluitjie het Hamediehs die telling vergroot met ’n strafskop om die eindtelling 23-18 te maak.

VDE se tweede span het ook vasgeval en 21-12 die onderspit gedelf.

Puntemakers:

VDE 1: Drieë: Marshallino Brits en Lorenzo Claassen 1-elk. Leroy Ruiters het een verdoel en twee strafskoppe oorgeklits.

VDE 2: Divan Godfrey en Sergio Maloy 1-elk. Graham Davids het een verdoel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.