Haweloses bygestaan

’n Tragedie is in hulp vir Stellenbosch se haweloses omgeskep danksy die plaaslike tak van Die Visfabriek.


’n Tragedie is in hulp vir Stellenbosch se haweloses omgeskep danksy die plaaslike tak van Die Visfabriek.

Maandag (22 Julie) het meer as 150 haweloses ’n Bybel, kombers, reënjas en ’n bakkie kos van dié onderneming en hul borge ontvang.

Douglas Duartee, die winkelbestuurder, en die personeel het besluit om haweloses te help nadat Ronnie Sikitasie Donderdag 4 Julie voor ’n nabye winkel dood aangetref is.

“Hy het blykbaar kort tevore uit die hospitaal gekom. Sy vriende sê hy het die vorige aand nog vir hulle kos gekoop en wou daarna ’n gemaklike plekkie kry om te lê,” vertel Snoza Khoza.

Khoza is van Snoza’s Mobile Salon naby Die Visfabriek. Sy was deel van die groep wat saam met Die Visfabriek-personeel verlede week van 20:00 tot 00:00 op die sypaadjie voor hul ondernemings uitgekamp het. Khoza sê hulle het probeer om ’n idee te kry waardeur haweloses daagliks gaan. “Ons het dit baie ernstig opgeneem. Selfs die van ons wat rook, moes rondvra vir ’n sigaret en mag nie enige gaan koop het nie.”

Volgens Duartee was dit ’n yslike koue aand. “Van die haweloses het by ons kom sit en meer vertel oor hul lewens en hoe hulle op straat beland het. Hulle het vertel hoe hulle medikasie kry en hoe moeilik dit is om dit te neem sonder die nodige kos.

“Wanneer hulle nie enigiets het om te drink nie, druk hulle dit sommer in ’n snytjie brood om af te kry. Ons loop elke dag verby hierdie mense en besef nie wat hulle deurgaan nie,” sê Duartee.

Tydens Maandag se skenkings het vrywilliges van die nabye ondernemings, die Stellenbosch-munisipaliteit en die Stellenbosch-nagskuiling gehelp om die pakkies aan die haweloses te oorhandig.

Hoe hulle op straat beland het, verskil van mens tot mens, maar die meeste haweloses is dit eens dat hierdie ’n besonderse koue winter is.

Sammy Booysen (34) is oorspronklik van Loxton. “Daar was niks werk nie, toe besluit ek om hierheen te trek. Ek is al vir ’n paar jaar op straat. Dit is moeilik, maar soms gaan ek na die Stellenbosch-nagskuiling. Hulle gee baie goeie diens daar,” meen Booysen.

William Lallo (43) sê hy het op straat beland nadat sy vriendin hom uitgesit het.

Ashwill Jullies (34) het sy dankbaarheid teenoor Die Visfabriek-span en hul vennote uitgespreek.

Met die hulp van borgskappe het Die Visfabriek-span geld ingesamel en R15 000 aan die Stellenbosch-nagskuiling geskenk.

Duartee bedank almal wat ’n bydra gelewer het om dag ’n sukses te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.