Gentrifikasie, ’n proses waar sekere woonbuurte verander wanneer meer welaf mense daarheen verhuis wat daartoe lei dat eiendomswaardes styg, is ook aan die gebeur hier in Stellenbosch.

Die proses lei dikwels tot die opknapping van geboue en verbeterde dienste en ontwikkeling van nuwe komplekse, maar lei ook tot die verdringing van oorspronklike inwoners wat nie meer die hoër lewenskoste kan bekostig nie. Die gevolg is ’n verandering in die buurt se sosiale en kulturele samestelling. ’n Dokumentêre fliek oor hoe die vier gemeenskappe van die historiese klein dorpies van Stellenbosch bewus gemaak word oor die gevare wat gentrifikasie vir hulle inhou, word gratis tydens vanjaar se Woordfees op 11 en 18 Oktober vertoon. Albei vertonings begin om 13:00 en sal by die Neelsie Cinema in die studentesentrum op kampus vertoon word.

In die dokumentêre fliek, vervaardig deur Ronnie Donaldson en Dorette Potgieter Produksies, word gefokus op die unieke verhale en konteks van die vier dorpies, asook hoe inwoners deur middel van die landkuns van Strijdom van der Merwe van getrifikasie bewus gemaak is.

Vir enige navrae kontak die Neelsie Cinema by 021 882 9648.

You need to be Logged In to leave a comment.