Die koue en nat weer bied die ideale geleentheid om aan ’n stomende bak Iersebredie smul.
Nou nie gemaak met die vleis van ’n robuuste, Guinness drinkende Ier wat “The Irish Rover” in ’n kroeg uitbasuin nie, maar ’n pot vol winter gemaak met skaapvleis en wortel-groente en vir ure op die stoof of oor die kole geprut.
Iersebredie is ’n storie so oud soos die heuwels van Ierland self en een wat die hart van die land se kookkuns uitbeeld. Dit is ’n eenvoudige maar klassieke gereg gemaak van hartlike bestanddele –skaapvleis (deesdae beesvleis ook), aartappels, uie en wortels, wat alles vir ure saam in ’n pot prot totdat die vleis sag is en die geure saamgesmelt het.
Die oorsprong van Iersebredie is ietwat in geheimhouding gehul, maar mense glo dit het waarskynlik in die 17de of 18de eeu ontstaan. In daardie tyd is die gereg dikwels gemaak deur skaapwagters en boere wat hul hande op net ’n paar eenvoudige bestanddele kon lê, maar ’n voedsame maaltyd nodig gehad het om hulle deur lang werksdae en selfs nagte te dra.
Wat ook al die oorsprong – Iersebredie het ’n ikoniese gereg in Ierse kookkuns geword; geliefd vir sy eenvoud en hartlikheid en oor die wêreld heen bekend.
Dit is behoorlik ’n sielsverwarmende gereg wat ook mense bymekaar bring, al is dit byna so eenvoudig soos een-twee-drie.
Iersebredie
(4 tot 6 porsies)
Jy benodig:
– 1 kg ontbeende skaapvleis (van die skouer of boud) of skaapvleis (bv. skouer of nek), in so 3-cm-stukke gesny
– 1 eetlepel olie of varkvet vir braai
– 2 eetlepels botter
– 2 eetlepels koekmeel
– 2 groot wortels, in 15-mm-stukke gesny
– 2 stingels seldery, fyngesny
– 1 medium geel ui, grofgekap
– 1 groot raap, in klein blokkies gesny
– 1 kg aartappels in dik stukke gesny
– 3 koppies goeie beesvleisaftreksel
– 1½ teelepels seesout
– ½ teelepel vars gemaalde swartpeper
– 1 lourierblaar
– vars gekapte pietersielie, plus ekstra vir garnering
So maak jy:
1. Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan en braai die vleis aan alle kante tot mooi bruin. Wees versigtig om nie die pan te oorlaai nie en werk in sarsies soos nodig. Plaas die lam op ’n bord en sit opsy.
2. Smelt die botter en voeg die meel by die vleissousie in dieselfde pan. Klits saam om te meng en hou aan klits vir ’n paar minute of totdat die mengsel ’n ryk, bruin kleur het. Voeg die aftreksel by en klits voortdurend. Prut totdat dit effens verdik het en hou eenkant.
3. Smelt nog ’n eetlepel of twee botter in ’n swaarbodempot oor medium hoë hitte en voeg al die groente behalwe die aartappels by. Soteer vir ongeveer vyf minute. Voeg dan die vleis, aartappels, pietersielie, lourierblaar, sout en peper by. Giet die beesvleisaftreksel in die pot en roer goed deur.
4. Bedek die pot en verlaag die hitte tot stadige prut vir so 2½ tot 3 ure of totdat die vleis baie sag is. Proe halfpad deur of dit meer sout en peper na smaak nodig het.
5. Met opdiening, versier met ’n bietjie gekapte pietersielie. Vir my is Iersebredie ’n volwaardige bord kos wat geen bykosse nodig het nie, maar indien die lus daar is, bedien met ’n kraakvars baguette of kapokaartappels.
Geniet dit!