Heerlike skoolvakansie beplan

Die e’Bosch-erfemisprojek se vakansieprogram-opleiding is in volle gang met die derde opleidingsessie wat die afgelope naweek op Jeugdag by die Markötter-sportgronde plaasgevind het.


Die e’Bosch-erfemisprojek se vakansieprogram-opleiding is in volle gang met die derde opleidingsessie wat die afgelope naweek op Jeugdag by die Markötter-sportgronde plaasgevind het.

Die 40 ontwikkelingsbates, wat die kerngedagte is van die Batebouer Netwerk, asook kunsvlyt-opleiding is aangebied.

“Die ontwikkelingsbates en hoe dit inskakel by die vakansieprogram is deur Pricilla Visser aan die koördineerders verduidelik. Hierdie bates, 20 ekstern en 20 intern, dra grootliks by tot die welstand van die kind, tot verstandelike en geestelike groei en kan hulle help om goeie, gesonde landsburgers te wees, vir hulself en teenoor hul medemens,” sê Carol Lakay van e’Bosch.

“Die kunsvlyt is aangebied deur Wynanda Brinkhuis. Sy het vindingryke idees oor hoe om herwinbare rommel en ander huishoudelike materiaal te gebruik en waarmee mooi en interessante dekor en versierings gemaak kan word. Sy het hulle geleer dat jy nie noodwendig geld nodig het om hierdie goed te kan maak nie, jy het net jou verbeelding nodig.”

Sowat 60 leerders het ook, as deel van die Jeugdag-vieringe, deelgeneem aan die sport en ontspanningsaktiwiteite wat aangebied is deur Stellenbosch Academy of Sport (SAS).

“Die oorhandiging van die sertifikate aan afrigters is by hierdie geleentheid gedoen.

“Vir 2023 is die hooftema ‘ ’n Hele nuwe wêreld’ met onderskrif ‘Burgerskap en hoop’, en sover was dit ’n baie suksesvolle drie weke. Hierdie week, 24 Junie by De Laer, Voortrekkersaal, sal die laaste opleidingsgeleentheid plaasvind. Hierdie week sal ’n kort samevatting gegee word van die vorige drie weke se opleiding, asook die afsluiting van die avontuur-opleiding. Oorhanding van die sertifikate en registrasies van programme van die 14 dorpies sal ook by hierdie geleentheid plaasvind.”

Die skoolvakansieprogram begin Saterdag 24 Junie met ’n registrasiedag. Die program begin amptelik Maandag 26 Junie en kulmineer in twee saamtrekdae. “Die sportsaamtrek gebeur in die laaste week van die skoolvakansie. Die uitvoerende kunste-saamtrek vind plaas tydens die Hele Nuwe Wêreld Skouspel op Saterdag 15 Julie,” sê Lakay.

Die opleiding in sport en ontspanning, drama, musiek en beweging, avontuuraktiwiteite en kunsvlyt, stedelike voedseltuine, en ’n gr. 11-leierskapsberaad word aangebied deur professionele persone.

“Skakelings met plaaslike kerke word aangemoedig op elke Vrydag van die skoolvakansie om saam ’n Deernisdag te organiseer en uit te voer. ’n Wye reeks vennote het saamgekom om te verseker dat die wydste reeks skoolvakansie­programme oor die lengte en breedte van Stellenbosch beskikbaar is. Die vennote sluit baie van die organisasies in wat hande geneem het in die Keep them Safe-projek. Die stigtersvennote vir die 2022-program is die Stellenbosch Skole Netwerk, die Batebouer Netwerk, StellSORG, e’Bosch, ACVV, Thando, Academy of Sport.”

Bestaande skoolvakansieprogramme kan baatvind by nuwe materiaal en voetsoolvlakgroepe op ’n wye front kan baat vind by ondersteuning en hulpbronne.

“e’Bosch nooi al die medewerkers van die skoolvakansieprogram, organisasies en nuwe fasiliteerders uit om deel te neem aan die finale voorbereiding en opleiding wat 24 Junie plaasvind. Die opleiding begin om 9:00 en duur tot 14:00.”

. Mense of organisasies wat by die opleidingsprogram wil aansluit, kan die projekleier, Wynanda Brinkhuis, kontak op WhatsApp of bel by 061 595 4085, of stuur epos aan wynanda@ebosch.co.za en carol@ebosch.co.za

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.