Meer as 50 inwoners van Onder-Papegaaiberg het Dinsdagmiddag (12 September) by die Stellenbosch-munisipale kantoor byeengekom om ’n versoekskrif met hul ontevredenheid oor die toestand en veiligheid van die Papegaaiberg-natuurreservaat aan Stellenbosch se burgemeester, adv. Gesie van Deventer, te oorhandig.
Betogers was ongelukkig dat Van Deventer nie opgedaag het om die versoekskrif te ontvang nie. Dit volg nadat sy volgens hulle twee weke gelede twee e-posse ontvang het met die versoek om die versoekskrif te ontvang.
Die versoekskrif is wel deur die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, in ontvangs geneem.
Meer as 3 000 inwoners het reeds die petisie teen Dinsdagmiddag om 13:30 onderteken.
Volgens Karin Coetzee, een van die organiseerders, is die petisie Dinsdag nasionaal onthul en hulle hoop dat alle Suid-Afrikaners dit sal onderteken om hierdie pragtige nasionale bate in die Wes-Kaap te help red.
“Mense is gatvol vir amptenare wat nie hul werk doen nie, politieke speletjies en wette wat nie toegepas word nie. Me. Mettler, as die administratiewe hoof, sal onmiddellik moet werk maak van hierdie dreigende vernietiging van die natuurreservaat. Dit is ’n skreiende skande dat mense nie die reservaat kan gebruik nie omdat dit te gevaarlik is om te betree.
“Belastingbetalers betaal maandeliks R700 000 aan die Red Ants Sekuriteitsfirma om die reservaat se grens te monitor en onwettige strukture af te breek – hoekom weet hulle nie van die onwettige plakkershutte en twee nuwe varkplase binne die reservaat se grens nie? Hommeltuigfoto’s wat verlede week geneem is, wys duidelik die onwettige strukture,” sê Coetzee.
Sy voeg by dat die oorspronklike geproklameerde grense van die natuurreservaat nie meer bestaan nie.
“Die munisipaliteit het reeds twee keer die grense verskuif om onwettige plakkershutte en vorige varkplase te akkommodeer. Hoeveel keer wil hulle dit nog doen en wat gaan oorbly? Al die wildsbokke wat in die reservaat was, is gevang en doodgemaak deur die inwoners van die plakkerskamp, wat met troppe honde jag. Ek en my hond is in die reservaat genader deur ’n trop van sowat 15 honde en hul eienaars. Dit was skrikaanjaend en ek moes drastiese stappe neem om my hond se lewe te red.”
Coetzee sê die jagters en hul honde loop ook in die aangrensende woonbuurt rond, en die honde word aangehits om die mense aan te val en werkers word ook so beroof.
“Wat het geword van die geld wat die Rupert-familie geskenk het vir die reservaatheining – is alles gebruik en hoekom word die gate in die heining nie deur die munisipaliteit herstel nie? Daar is ’n groot dooie stuk veld reg langs die reservaatheining, teen die helling wat afloop na die Plankenburg-rivier, wat deur inwoners van die onwettige plakkerskamp as veldtoilet gebruik word. Perde en varke loop ook daar in die reservaat rond. Die rivier loop in die Eersterivier uit en die besoedelde water moet deur besproeiingsboere gebruik word.”
Die munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar, sê enige vorm van indringing van openbare grond soos die natuurreservaat is onwettig en word hanteer soos en wanneer dit onder die munisipaliteit se aandag gebring word.
“Vee, veral varke, word al jare lank deur kleinskaalse boere in die gebied op aangrensende erwe aangehou. Op versoek van die munisipaliteit het kundiges van Elsenburg-landboukollege ook by verskeie geleenthede terreininspeksies gedoen. Die munisipaliteit het kennis geneem van die kommer oor veiligheid in die reservaat en sal voortgaan om ’n sterk wetstoepassingsteenwoordigheid in die gebied te handhaaf. Ongelukkig is openbare veiligheid nie ’n kern- munisipale verantwoordelikheid nie en berus dit by die Suid-Afrikaanse Polisiedienste (SAPD). Ons sal egter dringend betrokkenheid by die SAPD oor hierdie kwessies verhoog,” voeg hy by.
Hy sê egter nuwe lugfoto’s, in vergelyking met ou lugfoto’s van die gebied, toon dat geen nuwe strukture op die terrein of in die omgewing opgerig is nie.
“Wetstoepassing doen gereelde monitering en kan bevestig daar is geen nuwe strukture nie. Openings in die heining is doelbewus oopgehou om te verseker dat noodvoertuie en rampbestuurpersoneel toegang tot die terrein kan kry in ’n noodgeval.”