Help sokkerseun oorsee speel

“Ek het met my kop in my hande gesit, want ek het geen idee gehad waar om te begin nie. Maar ek gaan my bes probeer om hom in Spanje te kry om sokker te speel.”.


“Ek het met my kop in my hande gesit, want ek het geen idee gehad waar om te begin nie. Maar ek gaan my bes probeer om hom in Spanje te kry om sokker te speel.”

Só vertel Hannelie Fredericks van Idasvallei oor haar seun Hayden (13).

Hayden speel sedert gr. 1 sokker en van gr. 5 af vir ’n plaaslike sokkerklub. Deesdae speel hy regtervleuel vir die Idasvallei-sokkerklub. Dit was as lid van dié klub dat hy genooi is om aan die Donosti-bekertoernooi saam met die res van die BT Football Recruitment Agency-span deel te neem.

“Ek is mal oor die spel. Ek kan my passie op die veld uitleef wanneer ek speel. Om internasionaal deel te neem, is ’n groot voorreg, want Spanje se spanne het van die beste spelers van die beste spanne in die wêreld,” vertel Hayden. Dié tiener sê die Nederlandse sokkerster Xavi Simons is sy gunstelingspeler.

Fredericks se gunstelingspeler bly egter haar seun en sy doen moeite om langs die veld te wees wanneer hy speel. “Soms raak hy skaam vir my wat vir hom skree, maar ek kan myself nie help nie. Ek doen regtig moeite om hom die geleenthede te bied wat ek nie gehad het nie. Daarom vra ek die gemeenskap om my te help om Hayden se droom ’n werklikheid te maak.”

Om die R50 000 vir die toer in te samel, is ’n yslike uitdaging vir dié enkelma, maar sy beraam planne om die geld te in aangesien die eerste betaling van R10 000 aan die einde van vandeesmaand gedoen moet word. Sy bedank Hayden se afrigters, Alfondso Hendricks en Robin Jacobs, wat hom gehelp het om vir die toer in aanmerking te kom.

Fredericks sê Hayden is nog jonk en sy weet daar sal nog geleenthede vir hom wees, maar sy hoop om hom in Junie op die vliegtuig te kry.

Intussen maak Hayden gereed vir die toer. Hy meen sy spel gaan oor meer as net vlugtige voete. “Sokker het my dissipline en respek geleer en om hard te werk. Dit is wat die afrigters gesê het ons moet hê vir die toernooi en om goed te speel saam met jou spanmaats, is die belangrikste. Hulle soek nie tricks nie.” Hayden se droom is om eendag vir Bafana Bafana uit te draf, maar sê indien sy gunstelingspan – Manchester City – vir hom ’n kontrak aanbied, “sal ek nie nee sê nie”.

Belangstellendes wat kan help om Hayden in Spanje te kry, kan Hannelie Fredericks by 072 050 4326 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.