Die heropening van die Cloetesville-swembad in Stellenbosch kon nie op ’n beter tyd plaasgevind het nie, met die hittegolf wat die Wes-Kaap die afgelope naweek getref het. Die water was ’n lafenis vir baie in Cloetesville. Foto: Francois Lombard


Die heropening van die Cloetesville-swembad kon nie op ’n beter tyd plaasgevind het nie – met die hittegolf wat die Wes-Kaap die afgelope naweek getref het was dit ’n lafenis vir baie in Cloetesville.

Die swembad is Vrydag 21 Januarie met ’n kort seremonie deur owerhede heropen.

Volgens Stuart Grobbelaar, kommuni­kasiebestuurder, was die omvang van die opknappingswerk omvattend en het die vervanging van die pompkamer, nuwe pompe en filterstelsel, die herstel van die swembad, teëlwerk, die oprig van ’n nuwe veiligheidsheining, die installering van kringtelevisiekameras en alarms sowel as die verfraaiing van die perseel en herstel van kinderspeel­plek ingesluit.

Die totale koste beloop meer as R4 miljoen.

“Die swembad moes gesluit word en was vir ’n geruime tyd buite werking weens vandalisme. Groot skade is aan die gerief aangebring en die munisi­paliteit moes noodgedwonge die swem­bad sluit en geld in die begroting vind vir die herstelwerk en opknapping. Werk op die perseel het in Mei 2021 begin,” het Grobbelaar bygevoeg.

Grobbelaar voeg by dat verskeie maatskappye betrokke was by die projek en die presiese getalle in terme van werkskepping sal van die rolspelers versoek word.

“Tariewe is R6,50 vir kinders, R12,50 vir volwassenes en toegang is gratis vir kinders onder die ouderdom van vyf. Hierdie is vergelykbaar met en selfs goedkoper as aangrensende munisipaliteite se tariewe.”

Die swembad deel ook nou ’n ruimte met ’n nuwe wêreldklas-skaatsplankbaan wat in Oktober 2021 geopen is. Die baan is ontwerp met die hulp van Suid-Afrika se Olimpiese skaatsplankryer, Dallas Oberholzer. Die baan is gebou volgens Olimpiese standaarde, maar is ook spesifiek ontwerp om veilig en toeganklik vir jong kinders en beginners te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.