‘n Groep voormalige kerkraadslede van die Rynse Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se gemeente Stellenbosch beweer dat die huidige kerkraad onreëlmatig optree en doelbewus inligting oor dié kerk se finansies van die gemeente weerhou.
Een van die bewerings is dat die kerkraad in 2019 een van die kerk se eiendomme sonder die wete van die gemeente aan die Kommissie op Herstel van Grondeise vir sowat R5,3 miljoen verkoop het. Die eiendom huisves glo nou die Stellenbosch-tak van die departement van binnelandse sake in Ryneveldstraat.
“Toe ons op ’n vergadering in September 2019 vir die kassier vra waar die R5,3 miljoen, wat in Augustus daardie jaar in die kerk se rekening inbetaal is, vandaan kom, kon hy ons nie antwoord nie,” sê Adolf Hector, een van die voormalige kerkraadslede.
Hector voeg by dat daar etlike eiendomme is wat aan die kerk behoort waarvan die gemeente nie weet nie en daar ook geen rekord is van wat tans met die eiendomme gedoen word nie.
“Nog ’n eiendom van die kerk waaroor die gemeente in die duister is, is die skoolgebou in Jamestown wat die kerk aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement verhuur. Die huurkontrak het in 2021 verval, maar ons weet nou nog nie wat die nuwe kontrak behels en of daar selfs ’n kontrak is nie.”
Volgens die voormalige kerkraadslede is daar
ander eiendomme wat ook oor die jare verkoop is waarvan die gemeente nie weet nie.“?’n Gedeelte van die Stelkor-eiendom in Louwstraat 5 is in die jaar 2000 vir R500 000 verkoop aan ’n ontwikkelaar wie se identiteit nie
bekend gemaak is nie. Ons wil weet wie die ontwikkelaar is en hoekom dit vir slegs R500 000 verkoop is. Iemand maak geld uit die kerk se eiendom.”Hulle beweer ook dat ’n projek om die Jamestown-saal te restoureer, onreëlmatigheid bevat deurdat die tenderproses nie volgens prosedures gedoen is nie.
“Ds. Andries Daniels het gesê die versekeraars sê die saal is in ’n ramptoestand, maar die versekeraar was nooit hier nie en die saal word steeds uitverhuur. Die saal is ook nie volgens boustandaarde gerestoureer nie. Geld is betaal, maar die werk is onklaar.”
Hector sê hulle het op talle geleenthede ’n vergadering met die kerkraad en ds. Daniels aangevra, maar met geen sukses nie. Hulle beweer ook dat daar sedert 2003 geen gemeentevergaderings gehou is nie.
“Elke keer wanneer ons vir ’n vergadering vra, is daar duisende verskonings. Ons doen ’n beroep op die ring om ’n gemeentevergadering te beroep sodat die gemeente antwoorde op hul vrae kan kry. Ons wil ’n vergadering met die sinode belê sodat ons klarigheid kan kry.”
- Is die eiendom in Ryneveldstraat in 2019 aan die Grondeisekommissie verkoop? Indien ja, vir hoeveel?
- Is die stuk grond by Louwstraat 5 vir R500 000 verkoop en hoekom word die identiteit van die ontwikkelaar nie bekend gemaak nie?
- Waar kom die beweerde R5,3 miljoen vandaan?
- Wanneer laas het die gemeente ’n gemeentevergadering gehou?
- Lewer asseblief kommentaar oor die bewerings oor die saal en skoolgebou se verhuring.