In haar resensie vir Netwerk24 beskryf Anschen Conradie die nuwe bloemlesing van Fiona van Kerwel as ’n “fantastiese Afrikaanse gids”, wat die spreektaal in verskeie weergawes aanbied.
Van Kerwel, die bestuurder van die Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek, se nuwe bloemlesing, Leë blikkies vol liefde, het pas op boekrakke verskyn en is met ope arms deur resensente en taalonderwysers ontvang.
Die bloemlesing is ’n versameling kortverhale, geskryf deur verskillende van Suid-Afrika se voorste skrywers, onder wie Jeremy Veary, Allison Matroos, Diana Ferrus en talle ander. Die versameling is gemik op leerders wat Afrikaanse as eerste addisionele taal moet baasraak en is vir gebruik in die klaskamer om lesse vir leerders lewendig en toeganklik te maak.
“Ek dink dis belangrik dat kinders stories of tekste moet geniet om dit makliker te kan te verstaan. As hulle met ’n teks kan identifiseer, word begrip, genot en waardering van sulke tekste of stories vir hulle lekker en maklik. Hoewel ons wêreldburgers grootmaak, is dit belangrik dat leerders met hul eie omgewings moet kan identifiseer. Dit kweek trots en moedig ook selfvertroue aan,” het Van Kerwel oor die belangrikheid van plaaslike en eietydse bydraes tot die bloemlesing gesê.
Dié opwindende bloemlesing is maar net een van WOW se inspirerende bydraes tot die bevordering van taalonderrig en letterkunde op skool. WOW is ’n bemagtigingsprojek wat deel van die Toyota US Woordfees vorm. Die hoofdoel van WOW is om kreatiewe programme gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste aan te bied om leerders en opvoeders se horisonne te verbreed.