Die ink in sy pen is op, die verf aan sy kwas is droog, hy het sy laaste dialoog in die toneelstuk van sy lewe uitgevoer en dit ná ’n vol lewe afgesluit.
Só word die bekende Stellenbosser Hilton Biscombe (68), wat verlede Dinsdag 26 April die huidige met die hiernamaals verwissel het, se laaste oomblikke beskryf.
Biscombe, ’n bekende in kuns- en skryfkringe, is dood nadat hy onlangs ’n verkoue opgedoen het. Chroniese obstruktiewe longsiekte, of COPD, is ’n paar jaar gelede by hom gediagnoseer.
“Die dokter het gesê hy mag nie ’n verkoue opdoen nie omdat dit lugvloeiblokkering en asemhalingsverwante probleme veroorsaak. Dit sluit emfiseem en chroniese brongitis in,” vertel sy vrou, Colleen.
Colleen sê hy het ’n vol lewe gelei. “Hy was obsessief oor die dood en daarom het hy voluit gelewe. Sy ouer broer, wat Hilton se held was, is dood toe Hilton net 17 jaar oud was, en van toe af het hy ’n obsessie gehad met die dood en hoekom dit moet gebeur.
“Hilton is in Rhyneveldtstraat by die Rhyneveldt Lodge gebore voordat hulle deur die Apartheidsregering na Idasvallei verskuif is, en hy het lekker kinderjare gehad. Hy het in die Volkskerk grootgeword en ook by die kerk skoolgegaan. Hy het sy geloof en sy menswees aan die kerk toegeskryf,” verduidelik Colleen.
Colleen sê Hilton was ’n goeie huweliksmaat en pa vir sy kinders.
“Hy het hoofsaaklik die rigtings waarin hulle almal studeer het, aangemoedig. Hy het hulle van kleins af aangemoedig. Toe hy sien Simone stel belang aan drama, het hy haar aangemoedig; hy het vir Monique saam met hom geneem om kunsklasse in Kylemore aan te bied en vir Cleo het hy aangemoedig om te lees en te skryf.
“Daarom is Simone vandag ’n akteur, Monique ’n kunstenaar en Cleo het pas haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk voltooi.”
Hilton was ’n gekwalifiseerde kunsonderwyser en het ook graag dramas en boeke geskryf.
Hy was volgens Colleen ook baie lief vir mense – veral kinders en ouer mense. “Hy het baie deernis vir oumense en liefde vir kinders gehad.”
Hilton het oor die jare twee dramas geskryf en opgevoer, twee boeke gepubliseer en ’n boek oor sy lewe geskryf, wat klaar is, maar nog nie gepubliseer is nie. Hy was ook ’n uitstekende videograaf wat die geskiedenis van Stellenbosch oor die jare op kamera vasgevang het.
Hilton het vir 25 jaar by St. Idas Primêr skoolgehou voordat hy hom voltyds op sy skryfwerk en videografie toegespits het. Hy was ook ’n rubriekskrywer vir Eikestadnuus.
“Ons gaan die dreuning van sy diep stem, wat daagliks deur die huis weergalm het, baie mis. Hy word reeds baie gemis, maar ons gun hom die rus.”